Bokke wen en Morné doen dit wéér!

Die Springbokke vier hul reeksoorwinning. Foto: Rodger Bosch/AFP.

Aandag alle troebadoers en digters: Trek solank jul skryfblokke of iPads nader en begin aan woorde dink wat met ‘Morné Steyn’ rym…

Dalk is ‘Leeu-pyn’ iets gepas om mee weg te spring.

Want as daar nou ooit vir jou ’n Springbok-rugbyspeler was oor wie daar liedjies en gedigte geskryf kan word, dan is dit ongetwyfeld die immergroen Steyn.

Waarom, vra jy?

Die antwoord is eintlik doodeenvoudig: Vir die tweede agtereenvolgende Leeus-toer het die (nou 37-jarige) losskakel die Britte se harte gebreek. Eers was dit dáárdie skop van 2009 en nou, 12 jaar later, het ’n suksesvolle strafskop in die 79ste minuut die wedstryd én reeks vir die Springbokke beklink.

Jasper Wiese bemeester ’n hoë bal. Foto: GB Jordaan.

Die Steyn-skop (’n mens moet seker patentreg op dié naam bekom) het beteken dat die Suid-Afrikaners die derde en beslissende toets in Kaapstad met 19-16 gewen het om ’n reeksoorwinning van 2-1 te verseker.

Rugby is egter ’n spansport en sekere woorde word gereeld gebruik om die spelers van ’n betrokke span te beskryf.

Karakter is só ’n woord; en die Bokke het emmersvol daarvan gehad. Daar was vooraf gevrees dat die Leeus met die reeks gaan weghardloop – die Wêreldkampioenspan het dan twee jaar terug laas ’n internasionale rugbywedstryd gespeel, terwyl hul voorbereidingswedstryde teen ’n moedige Georgië ook deur Covid-19 in die wiele gery is.

Franco Mostert in aksie. Foto: GB Jordaan.

Daarteenoor het die Leeus-spelers internasionale blootstelling gehad, terwyl hulle die stomme Suid-Afrikaanse provinsiale spanne in die aanloop tot die toetsreeks vermorsel het. Goeiste, die besoekers het dan selfs die eerste toets gewen…

Maar die Bokke het hulself reggeruk en die belangrikste wedstryd van die reeks gewen: Die beslissende een.

Ja, Morné Steyn en Cheslin Kolbe (vir vanaand se gebruiklike zoep-zap-en-zirts-hom-drie) se name gaan seker rondom die braaivleisvure genoem word, maar elke Bok-speler kan hierdie reekssege geniet.

Damian de Allende het in sy 50ste toets vir die Springbokke gespeel. Foto: GB Jordaan.

Van Steven Kitshoff, Trevor Nyakane en Siya Kolisi, tot Eben Etzebeth, Handré Pollard en Damian de Allende. Om nie eens van Jacques Nienaber en Rassie Erasmus te praat nie.

Suid-Afrika het só ’n vertoning nodig gehad. Want iewers, daar tussen die gevoel van trots en opwinding versteek, sorg sport vir nog iets belangrik: Hoop.

  • Puntemakers:

Springbokke: Drie: Cheslin Kolbe. Doelskop: Handré Pollard. Strafskoppe: Pollard (2) en Morné Steyn (2).

Britse en Ierse Leeus: Drie: Ken Owens. Doelskop: Finn Russell. Strafskoppe: Finn Russell (3).

  • Besoek Maroela Media gerus môreoggend vir GB Jordaan se fotoreeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Snowball ·

Gedigte onnodig. Woorde oorbodig. Binne bruin, wit en swart klop ‘n Springbokhart. Dis al.

MakersMark ·

Lekker spul suurknolle hier. Kyk die afduime. Wil nie ‘n verenigde bok span sien wen nie. Deur die hele reeks het elke draer van die groen en goud gespeel asof hul lewens daarvan afhang. Kleur ongeag. En ons gewys wat in Suid Afrikaners steek. Ons het weereens gesien wat vermag kan word deur eenheid ipv verdeeldheid.

piet ·

Dis gewoonlik maar net-net teen die Britse Leeus. Laas toe ek gekyk het was die gemiddelde punteverskil van alle kragmetings iets soos 1 of 2 punte. Hulle was nog altyd formidabele teenstanders vir die Bokke.

Tiptol ·

The more things change, the morné steyn the same. (geleen)

Nationalist ·

Does ref rhyme with Steyn? Seeing as the ref was the key player for the Boks.

MakersMark ·

Enigste aanmerking om te maak as jou span stil gespeel is is om die ref te blameer. Swak styl.

piet ·

‘n Betroubare skopper is altyd goud werd in so ‘n situasie. Een ding wat mens van Morne kan se, is dat hy BMT het.

Santie Gildenhuys ·

Joeeeee!! Net so uitmuntend soos die Bokke se oorwinning op die veld, is die styl van die skrywer van hierdie artikel! Dubbele genot!

Snuffelgids ·

Mornè Steyn, met tyd word hy beter soos n goeie rooi wyn.
n Skop hier en n skop daar, wen hy lag lag vir jou 2 Leeus reekse 12 jaar uitmekaar! BOKKE

MakersMark ·

Morras skop hom oor want Morras mis nie………..(geleen by Robbie Wessels(.

Jannie van Niekerk ·

Ons eie Morne Steyn
laat die Britte se harte peyn
Gee vir ou Morries ‘n dop
omdat hy so lekker skop.

Lorna ·

Dit rym dalk nie maar al wat ek ???? sê
Morne jou ou doring

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.