Bokser en verloofde glo deur polisie aangerand

Flo Simba en sy verloofde, Leandra Beyers Foto: @msbeyers op Twitter

Flo Simba en sy verloofde, Leandra Beyers Foto: @msbeyers op Twitter

Flo Simba, die swaargewig bokser, het ʼn klag van aanranding teen ʼn groep polisiebeamptes van Johannesburg gelê wat hom en sy verloofde glo aangeval het, het The Star Dinsdag berig.

Simba en Leandra Beyers is glo Sondag naby Tulisapark, suid van Johannesburg, aangerand. Volgens die koerant het ʼn polisievoertuig agter hulle stilgehou en beamptes wou die motor vir dwelmmiddels deursoek.

“Hulle het my begin rondstamp,” het Simba gesê. “Ek het vir hulle gesê ek verset my nie, hulle kan my deursoek, hulle moet net ophou om my rond te stamp.”

Nadat die soektog niks opgelewer het nie, wou ʼn beampte hê Simba moet sy broek uittrek. “Ek het vir hom gesê hy kan dit nie doen nie, jy kan my nie so minag nie,” het Simba bygevoeg.

Die Black Panther, soos hy in die bokskryt bekend staan, is toe glo aangerand. Beyers het van die beamptes se name begin neerskryf en foto’s geneem. Volgens Simba het die beamptes hierna Beyers begin rondstamp en haar geklap. Hy wou homself tussen haar en die aanvallers kry, maar is met boeie aan ʼn hek vasgemaak. “ʼn Beampte het haar geslaan, geskop en haar in die gesig en oor haar lyf geklap,” het Simba aan die koerant gesê.

Simba het kopbeserings opgedoen en Beyers se tand is gebreek, sy het ʼn geswolle oog en het kneusplekke opgedoen.

Konstabel Rebecca Bila, woordvoerder van die polisie, het aan die koerant bevestig Simba het ʼn saak aanhangig gemaak. Sy voeg by die twee is in hegtenis geneem vir die besit van dwelmmiddels, inmenging met die polisie en aanranding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Monica ·

Dit is die derde geval, waarvan ek gehoor het, wat hierdie naweek plaasgevind het. Intimidering en afdreiging … as jy nie bereid is om die Polisie af te koop nie, word allerhande denkbeeldige klagte teen jou gelê … met mede-Polisie-lede as hulle getuies. Skurke met die Wet aan hulle kant.

Ria Maritz ·

Ditto Monica !

Ek kan nie help om te wonder, was hierdie lede bewus van met wie hulle hier te doen het ?

Wel, elke persoon wat gedreig word om omkoopgeld te betaal, MOET dit rapporteer !

NS: Ek stel nie in boks belang nie, dus het ek nie geweet van Flo se bestaan en sy pretasies nie. Ek gee hom nietemin krediet dat hy die saak aangemeld het. Hoop ook maar dat daar werklik geen dwelmmiddels, ens. by hulle gevind is nie.

Net ‘n ruggraatlose jellievis sal ‘n vrou intimideer en sy hande vir haar lig.

Kobus ·

Baie van die sportsterre het een baie groot dink van hulself en een helse ego. Dink hulle kan maak en breek soos hulle wil. Die meeste kan nie roem hanteer nie want hulle kom van nêrens en nou ewe skielik is hulle iemand.

Ook Ge-Minag ·

Ons was ook al ge-minag deur die polisie. En toe ek die IPID (www.ipid.gov.za) email en vra of (met my storie en my bewyse) ek ‘n klag kan le het ek niks terug gehoor nie. Ek wens ek het een van daai kamera’s op my kar en/of by my gehad (daai GoPro goed) dat ek dit op die net kon laai en só darem ‘n bietjie terugslaan kon inkry. Ook wou hulle nie hulle name vir my gee nie, so wie weet dus wie hulle was.

Justi ·

Die verduiwelse kriminele polisiemanne (so hier en daar tussen in kry jy goeies) het die neiging om mense glo te “plant” met dwems sou hulle nie dit waarna hulle soek kry nie.
Dit is die vieslikste ding wat enige dienaar van die reg kan doen. Mag hulle self gevang word. Ek hoop hulle kry wat hulle toekom die uitvaagsels.

Eben ·

Rebecca Bila jy lieg!! Daar is dan niks by hulle gevind. Julle polisie dink julle is alles as julle jul blou uniform aantrek, maar weet jy wat, die bree publiek dink niks van julle.

Terloops …. konstabel rang en reeds n ‘woordvoerder’? Watter ondervinding het jy? Asb!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.