Bokskampioen veg terug

Francois Botha

Francois Botha, oftewel die Wit Buffel, het Maandag gesê hy gaan sy eie dwelmtoetse aanvra en hy veg dat sy nederlaag teen die Australiese rugbyspeler Sonny Bill Williams van die rekord geskrap word.

Botha het Maandag na Suid-Afrika teruggekeer. Williams het Botha Vrydag met ʼn omstrede eenparige puntebeslissing gewen. Die beoordelaars in Brisbane het die geveg eenparig aan Williams toegeken. Twee beoordelaars het beslis dat Williams met 97–91 as wenner uit die stryd moet tree, terwyl die derde beoordelaar beslis het dat Williams met 98 teen 94 die botoon gevoer het. Die geveg is uit verskeie oorde as ʼn klug bestempel nadat dit met twee rondes kortgeknip is.

Volgens Australiese mediaberigte is die verbode middel Phentermine, asook spore van die middel Benzodiazepine Dinsdag in Botha (44) se urinemonsters gevind. Die uitslae sal na die Wêreld-boksvereniging se hoofkantoor in Panama gestuur word.

Botha het Maandag in ʼn verklaring gesê hy vermoed daar was wedstrydknoeiery betrokke. Hy sê ook die persoon wat die dwelmtoetse gedoen het, is vriende van Williams se agent, Nasser Khoder. Volgens Botha gaan hy sy eie toetse in die land doen om sy naam skoon te kry. Botha sê voorts hy was onder die indruk dat die geveg 12 rondes gaan duur en het die pas daarvolgens aangegee.

“Na nege rondes was ek baie gelukkig met my vordering en toe hoor ek ewe skielik die skeidsregter sê ‘finale rondte, skud hande’,” het hy gesê. “Daar was geen manier dat Williams nog een ronde sou uithou nie, wat nog te sê twee! Hy was uit op sy voete.”

Botha het al in sy 20 jaar lange professionele loopbaan teen Mike Tyson, Evander Holyfield, Michael Moorer en Lennox Lewis geboks.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.