Bomdreigement by Mediclinic, Bloemfontein

ʼn Man is Saterdag in hegtenis geneem nadat hy gedreig het om die Mediclinic in Bloemfontein op te blaas.

Amanda Appelgryn, woordvoerder van die hospitaal, sê hulle het vroeg Saterdagoggend die bomdreigement ontvang ná ʼn verdagte voorval Vrydagaand, berig OFM. Die man het beweer hy het verskeie bomme in die hospitaal geplant en dat hy dit sou aktiveer indien hy nie ʼn wesenlike kontantbedrag ontvang nie.

Hy het aangedui dat hy die hospitaal dophou en die bomme sou aktiveer indien hy enige lede van die polisie opmerk. Die hospitaal het die polisie egter in die geheim in kennis gestel, wat toe ʼn taakspan na die hospitaal ontplooi het. Die taakspan het die hospitaal regdeur die dag bewaak.

ʼn Voorwerp met ʼn plofbare vloeistof is in een van die badkamers in die dokters se spreekkamerblok in die Mediclinic aan die brand gesteek. Die hospitaal se sekuriteitspan het dadelik reageer en die brand geblus.

Die polisie se bomeenheid is ontbied en hulle het die gebied deursoek voordat hulle dit veilig verklaar het. Danksy kringtelevisiekameras, kon die verdagte uitgeken word.

Die motief vir die voorval is nog onbekend.

ʼn Verdagte is laat Saterdagmiddag naby die hospitaal aangekeer. Geen ander toestelle of verdagte voorwerpe is by die hospitaal opgespoor nie.

“Ons het die hoogste agting vir die manier waarop die Suid-Afrikaanse Polisiediens die voorval hanteer het en hoe hulle ons in dié moeilike situasie bygestaan het,” het Appelgryn gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.