Bomdreigement het Vredenburg in rep en roer

Vredenburg. Foto: wikipedia.org

Vredenburg. Foto: wikipedia.org

Die polisie in Vredenburg in die Wes-Kaap het Donderdagmiddag ʼn waarskuwing oor ‘n bomdreigement ontvang.

“Die provinsiale polisiekantoor het Donderdagmiddag ʼn e-pos ontvang dat daar Vrydag, ʼn bom by een van die sewe skole of by een van die twee hospitale in die gebied sal afgaan,” het kol. John Rooi, die stasiebevelvoerder van die Vredenbrug-polisie, Vrydag aan Maroela Media bevestig.

Volgens Rooi was dit gisteraand te laat om toegang tot die skole te bekom om met behulp van die honde-eenheid die skole te deursoek. Die polisie het Vrydagoggend vroeg die skole deursoek. “Waarskuwings is Donderdagaand aan die skole, hospitale en gemeenskap uitgestuur,” het Rooi gesê. “Al sewe skole en hospitale is Vrydagoggend deursoek en veilig verklaar. Daar was geringe ontwrigting by die skole. Slegs twee skole moes ʼn paar minute laat oopmaak.”

Rooi het bevestig dat al die skole en die hospitale weer normaal funksioneer.

Hy het die valse dreigement streng veroordeel. “Die voorval word ondersoek en ons sal die persoon vastrek wat hiervoor verantwoordelik is. Kosbare tyd en mannekrag is gemors en sommige ouers het uit vrees hul kinders vandag by die huis laat bly. Die hele gemeenskap was op hol.”

Volgens Rooi sal die skuldige kragtens die Plofstofwet vervolg word. “Die persoon kan selfs van hoogverraad en terrorisme aangekla word. Mense wat hieraan skuldig bevind word kan ʼn baie swaar straf verwag,” het hy gewaarsku. “Dis deesdae baie maklik om iemand op te spoor wat sulke dade pleeg.”

Die Wes-Kaapse provinsiale polisie ondersoek ook die saak. Die motief vir die daad is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.