Bomeenheid deursoek Pistorius-hofsaal

Oscar in die Pretoria-landdroshof. Foto: Alex Crawford / Sky News / Twitter

Die polisie se bomeenheid het, as ʼn voorsorgmaatreël, die hofsaal waar Oscar Pistorius Maandag verskyn, voor die hofverrigtinge deursoek.

Verslaggewers, wat kameras en klanktoerusting opgestel het, is gevra om die hof te verlaat terwyl dié aksie uitgevoer is.

Veiligheid is ook by die hof opgeskerp. Veiligheidsbeamptes het, nadat die hofsaal veilig verklaar is, gehelp om meer stoele na hofsaal B van die Pretoriase landdroshof te dra, waar die verhoor plaasvind. ʼn Klagtestaat en datum wanneer Pistorius se verhoor gaan plaasvind gaan na verwagting vandag bepaal word.

Voor die verrigtinge begin het, het Pistorius vlugtig met sy familie gesels en hulle het saam gebid. Pistorius het kalm voorgekom, en dit lyk of hy baie gewig verloor het sedert sy vorige hofverskyning.

Hy staan tereg vir die moord op sy vriendin, Reeva Steenkamp nadat sy op Valentynsdag by sy spoghuis in die ooste van Pretoria doodgeskiet is. Hy voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien, maar die staat gaan moord met voorbedagte rade probeer bewys.

Steenkamp sou vandag haar 30ste verjaardag gevier het.

Lees ook:
Talle drom saam voor Oscar se hofverskyning

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bernie ·

Reeva sou vandag haar 30e verjaardag gevier het – ek dink aan haar ouers in hierdie seer tyd en al haar familielede, en vriende. Solank ons besef dat daar ‘n God is wat ‘n plan met ons elkeen het, sal alles ten goede meewerk. Niemand het trooswoorde vir ouers wat ‘n kind aan die dood afstaan nie, en net Oscar en God weet of hy skuldig is of nie en dit sal verseker aan die lig kom wanneer hy onder kruisverhoor geplaas word.

Seg Net ·

Die gemors het ‘n moord gepleeg en moet gestraf word. Behoort die doodstraf te kry. En end van die prent.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.