“Bonnie en Clyde”-paartjie vasgetrek

Twee van die polisiebeamptes wat “Bonnie en Clyde” vasgetrek het. Foto: eBlockwatch

ʼn Paartjie wat bekend geword het as “Bonnie en Clyde” is Woensdag deur die polisie aangekeer nadat hulle glo betrokke was by ʼn reeks diefstalle by skouhuise regoor die land.

Die paartjie het oor die afgelope paar maande eiendomsagente op hol gehad nadat hulle hulself as voornemende kopers voorgedoen het, en dan skouhuise beroof het van waardevolle items soos juwele. “Hulle lyk respektabel. Hulle gaan in die huise in en die een hou dan die agent besig terwyl die ander een die steel,” het André Snyman van die teenmisdaad organisasie, eBlockwatch, verduidelik oor hul modus operandi.

Verskeie eiendomsagentskappe se agente het onder die paartjie se streke deurgeloop en verskeie sake van diefstal is teen die paartjie aanhangig gemaak.

‘n Foto van die verdagtes is deur eBlockwatch op hul Facebook-groep, met nagenoeg 7 500 volgelinge versprei. ʼn Foto van hul voertuig, ʼn wit Bantam-bakkie met sy registrasienommer is ook gepubliseer en mense is versoek om op die uitkyk te wees vir die voertuig. Die inligting is ook na verskeie polisiestasies deurgestuur.

“Bonnie en Clyde” het egter Woensdag hul rieme styfgeloop toe drie polisiebeamptes hulle in Somerstrand in Port Elizabeth in die Oos-Kaap aangekeer het.

Volgens inligting op eBlockwatch het drie beamptes die omgewing gepatrolleer en die verdagtes se bakkie uitgeken. Albei verdagtes, en ʼn hond, was in die voertuig. Die paartjie is na die Humewood-polisiestasie geneem en gaan oor die naweek daar aangehou word totdat hulle Maandag in die hof moet verskyn, waarna hul regte name bekend gemaak kan word.

Die paartjie se hond is na ʼn veilige hawe vir diere geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

amanda cliengen ·

WONDERLIK….!!!!!! Die paartjie was hier in my kunstenaarshuisie in Riebeekkasteel en het my ook besteel!!!! ….en ja hulle het Bantambakkie gery (ek het bakkie gesien deur my venster toe hulle wegry)en hulle het juwele by hul gehad en probeer kyk of ek weet hoeveel dit werd is ensovoorts , toe gaan sy na my badkamer wat deur my kamer lei en besteel my handsak met kaarte en geld in !!!!! Bly hulle is vasgetrek .

Willy ·

Amanda ek was verlede maand in jou dorp. Moet sê julle het die mooiste kerk wat ek in ‘n baie lang tyd gesien het. Komende van my wat in die Oos Vrystaat groot geword het met al daardie argitektoniese pragstukke.

Marie le Grange ·

My Suster en haar man het self deurgeloop deur “kopers” Hul huis was in die mark en die mense het gevra om die huis te huur vir die tydperk wat hul oorsee sending werk gaan doen, het selfs gevra om haar kar te koop. Na twee maande is my Sus hulle terug, die huurders skoonveld kar en al en sonder om een maand se huur te betaal asook die paaiement wat hul vir die kar sou betaal. Het self my Sus hulle se meubels op Gumtree geadverteer. Die mense is nou nog soek.
Sal graag meer wil weet oor die “Bonny en Clyde”

Jen ·

Dankie aan die SAPD_lede vir hulle goeie werk!!!!! Die Bybel se as iets jou pla of in versoeking ly kap dit af so kap daardie vingers af!!!!!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.