Bordeel-kind se droom bewaarheid

Shweta Katti

Shweta Katti (19), wat in een van Mumbai, Indië, se rooiligdistrikte grootgeword het, kan nou by enige van drie Amerikaanse universiteite gaan studeer.

Katti het in ‘n bordeel grootgeword waar mishandeling algemeen voorgekom het, maar haar begeerte om aan te hou studeer het haar motiveer, berig The Indian Express. ‘n Nie-regeringsorganisasie, Kranti, het Katti gehelp om uiteindelik te besluit om sielkunde te studeer. Sy wil uiteindelik ‘n kliniek in dieselfde rooiliggebied, waar sy grootgeword het, oprig. American University, New York University, en Bard College het ingestem om haar volle studiebeurse toe te ken. Sy wag nou net vir ‘n individu of ‘n organisasie om haar leefkoste in Amerika te betaal.

“My ma was my enigste hoop,” het Katti gesê. Haar stiefpa, ‘n alkoholis, het haar glo vir die eerste 17 jaar van haar lewe mishandel. Armoede het haar ma gedwing om van die klein dorpie Belgaum in Karnataka na Mumbai te verhuis. Die tiener se selfbeeld was baie swak. “Mense, insluitend my pa, het die heeltyd vir my gesê ek is donker, lelik en vuil. Dit was slegs deur die selfvertroue wat my ma vir my gegee het dat ek by ‘n vroue kollege ingeskryf het.”

Kranti, wat met kinders in rooiligdistrikte werk, het van Katti te hore gekom. “Sy was ‘n teruggetrokke meisie, heeltemal onseker van haarself en haar vermoëns. Ondanks sterk teenstand van haar pa, het haar ma ons gehelp om haar by Kranti te laat inskakel,” het Robin Chaurasiya, een van Kranti se stigterslede, gesê. “Ons het haar sielkundig en geestelik begin opbou, en sy het baie goed hierop reageer.”

Ná haar finale jaar eksamen het Katti saam met die organisasie na Nepal en ander gebiede gereis om motiveringspraatjies aan prostitute en hul kinders te lewer. Sy het gedurende dié periode by agt verskillende vrouekonferensies gepraat.

Chaurasiya en haar kollega, Katie Pollom, het Katti gehelp om by universiteite aansoek te doen. “Ek kon sien watter verandering die terapeute in my lewe teweeggebring het. Ek het gevolglik besluit om my self in die sielkunde te kwalifiseer om vroue soos ek in die toekoms te kan help.”

Newsweek het onlangs Katti in sy “25 onder-25 jong vroue om dop te hou”-lys genoem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.