Borgtog vir polisieman wat glo betoger skiet

'n Vrou Maandag buite die hof. Foto: Werner Beukes /  SAPA

‘n Vrou Maandag buite die hof. Foto: Werner Beukes / SAPA

ʼn Polisieman wat daarvan verdink word dat hy ʼn betoger verlede week in Durban Deep doodgeskiet het, is Dinsdag in die Roodepoortse landroshof op borgtog vrygelaat.

Die polisieman se naam mag nog nie bekend gemaak word nie, aangesien ʼn uitkenningsparade nog moet plaasvind. Hy is op borgtog van R5 000 vrygelaat.

Anton Mankgabe, ʼn woordvoerder van die Durban Deep-gemeenskap, het ná die hofverrigtinge gesê die inwoners is teleurgesteld dat die beampte se borgtog toegestaan is. “Ons is gefrustreerd, ons het dit nie verwag nie. Al die redes wat in die hof aangevoer is, maak nie sin nie,” het hy gesê.

Volgens Mankgabe het die inwoner glo gesien hoe die beampte die betoger doodskiet. “Ter wille van die vrede in die gemeenskap, was hy nie veronderstel om borgtog te kry nie,” het hy gesê.

Die beampte het Maandag vir die eerste keer in die hof verskyn en die saak is tot vandag uitgestel. Honderde ontstoke inwoners het Maandag by die hof saamgedrom en die situasie was gespanne.

Hy is een van vier polisiebeamptes wat in hegtenis geneem is in verband met die skietery en word aangekla van moord en dwarsboming van die gereg. Die ander drie beamptes word slegs van dwarsboming van die gereg aangekla, aangesien hulle glo nie die saak aangemeld het nie.

Tshepo Babuseng (28) is vermoedelik deur die polisiebeampte doodgeskiet nadat inwoners van Durban Deep in Roodepoort verlede Donderdag paaie in die gebied met brandende bande en klippe versper het weens ʼn betoging oor huise. Betogers het glo op die polisebeampte se ongemerkte voertuig afgestorm en hy beweer hy moes waarskuwingskote vuur om die groep uit mekaar te dryf.

Lees ook:
Polisiebeampte in hof wat glo betoger skiet
Sesde polisie-skietdood vir jaar ná vrou se wrede moord
Vier polisiebeamptes vas vir Roodepoort-skietery
Man doodgeskiet tydens Roodepoort-betoging

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.