Die Federal Bureau of Investigation (FBI) van Amerika het bekendgemaak dat drukpotte, waarin springstof, spykers en gevaarlike skrapnel geplaas is, in Maandagaand se Boston-marathon ontploffings gebruik is.
Die agentskap het egter benadruk dat hulle nog nie weet wie vir die ontploffings verantwoordelik is en wat die motief daarvoor was nie. Die drukpotte is glo in swart drasakke versteek en op twee afsonderlike plekke op die grond geplaas.
ʼn Ondersoekbeampte het gesê hulle het nog nie bepaal wat gebruik is om die toestelle te aktiveer nie. Drukpotbomme word gewoonlik aan internasionale terrorisme verbind en word veral gebruik deur Al-Kaïda se tak in Jemen. Inligting oor hoe om die bomme te maak is egter maklik op die internet bekombaar.
Die FBI en ander wetstoepassingsagentskappe het die publiek versoek om na vore te kom as hul enige foto’s, video’s of van enigiets verdag het, of enigiets gesien of hoor het.
Intussen het president Barack Obama die aanval as terrorisme bestempel. Hy was egter versigtig om dit nie internasionale of plaaslike terrorisme te noem nie. Niemand het nog verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie.
Drie toeskouers is dood in die ontploffings. Hulle is die agtjarige Martin Richard van Boston, die 29-jarige Krystle Campbell van Medford in Massachusetts en Lu Lingzi, ʼn Chinese student aan die Boston Universiteit.
Lees ook:
Nuuskommentaar: Bloedvergieting in Boston – Internasionale perspektief
Boston-bloedbad: SA beseerdes was toeskouers
Vrae oor Boston-ontploffings
Twee Suid-Afrikaners beseer in Boston-ontploffing
Video en foto’s: Drie dood, honderde beseer in Boston-bloedbad
Derde ontploffing nie verwant aan Boston-marathon
Boston-marathon: SA’ners wat glo deelneem
Boston-marathon: Derde ontploffing bevestig
Foto’s: Ontploffings by Boston-marathon