Boston-marathon: Tweede verdagte vasgetrek

Dzhokhar Tsarnaev (19)

Die tweede broer wat glo verantwoordelik is vir Maandag se bomontploffings by Boston-marathon, is Vrydagaand in hegtenis geneem.

Die polisie het die verdagte, wat met bloed bevlek en in ‘n boot agter in ‘n erf weggekruip het, aangekeer nadat die huiseienaar 911 geskakel het nadat agterdogtig geraak het oor beweging op sy eiendom. “Ons het hom,” het Tom Menino, burgemeester van Boston, oomblikke later getwiet.

Die polisie het die 19-jarige Dzhokhar Tsarnaev Vrydagaand in hegtenis geneem nadat die wenk hulle na Franklinstraat gelei het, berig Washington Post. Die beamptes het reageer en ná ‘n skietgeveg met die verdagte het hulle verdowingsgranate in die boot gegooi in ‘n poging om hom te dwing om uit te klim. Tsarnaev is deur ‘n span van SWAT (Spesiale Wapens en Taktiek) aangekeer nadat hy nie op onderhandelaars se versoek reageer het nie. Hy is in ‘n ernstige toestand na ‘n hospitaal geneem.

Drie mense is dood en meer as 170 mense beseer in die bomontploffings by die gewilde marathon. Tsarnaev en sy ouer broer, Tamerlan Tsarnaev, het Donderdagaand glo ‘n polisiebeampte doodgeskiet, ‘n Mercedes-motor gekaap en Tamerlan is tydens ‘n skietgeveg met die polisie dood.

“Die jagtog is verby. Geregtigheid het gewen. Verdagte in aanhouding,” het die Boston-polisiedepartement op Twitter geskryf.

“Waarom het jong mans, wat hier, as deel van ons gemeenskappe en ons land, grootgeword en studeer het, hulself tot sulke geweld gewend?” het president Barack Obama gevra.

Die SWAT-span in Boston

Beamptes beplan glo om Tsarnaev eers oor moontlike samesweerders en ander bomme uit te vra voordat hulle hom die reg op ‘n prokureur bied of oor selfbeskuldiging waarsku. “Dit word gedoen in uitsonderlike gevalle waar publieke veiligheid steeds onder bedreiging kan wees,” het ‘n woordvoerder van die Federale Buro van Ondersoek (FBI) gesê.

Die FBI het Vrydag bevestig dat sy agente in Boston, op versoek van die Russiese regering, Tamerlan in 2011 ondervra het. Rusland was glo besorg oor Tamerlan se moontlike verbintenisse aan Tsjetsjeense terroriste. Die FBI het hom egter na dié onderhoud nie verder agtervolg nie.

Ondersoekbeamptes moet egter nou probeer uitvind waarom die twee hulle na geweld gewend het. Owerhede sê hulle het tans geen bewys dat enigiemand anders buiten die twee Tsarnaev-broers by die marathon-aanval betrokke was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.