Boston Strangler na halfeeu geïdentifiseer

Albert DeSalvo, Boston Strangler

Die berugte ‘Boston Strangler’ wat in die sestigerjare twee jaar lank ‘n skrikbewind gevoer en 11 vroue aangerand en vermoor het, is oplaas geïdentifiseer.

Die skuldige, Albert DeSalvo, is egter reeds in 1973 in die tronk vermoor waar hy vir ander misdade lewenslange gevangenisstraf uitgedien het. DeSalvo het inderdaad ‘n paar jaar ná die moorde erken dat hy die ‘Boston Strangler’ was, maar sy bekentenis later teruggetrek. Hy kon nooit positief met die moorde verbind word nie.

Die polisie het egter nou DNS van ‘n glas wat ‘n broerskind van DeSalvo gebruik het onttrek, en ‘n positiewe verbintenis gemaak met DNS wat onttrek is van die toneel van die Strangler se laaste moord, dié van die 19-jarige Mary Sullivan. DNA-identifikasie is eers in 1984 ontwikkel.

De Salvo se lyk sal nou opgegrawe word om DNS te onttrek vir ‘n waterdigte identifikasie, berig die Bostonse Christian Science Monitor.

Verskeie reeksmoordenaars in die VSA is egter steeds nie geïdentifiseer nie. Die Long Island-moordenaar wat tussen tien en 14 moorde oor ‘n 15-jaar tydperk gepleeg het, tel onder die onopgeloste moorde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.