Botha-Miller se ‘moordenaars’ vasgetrek

Nettie Miller Foto deur die familie aan Maroela Media verskaf

Vier mans is Donderdag in hegtenis geneem in verband met die moord op Nettie Botha-Miller van Boksburg-Noord.

Maroela Media het vroeër berig Botha-Miller (74) is op 21 November in haar huis in Roseden, Boksburg, aangeval en vermoor. “Speurders het ʼn wenk ontvang en het verder ondersoek ingestel,” het lt. Coetzer, woordvoerder vir die polisiestasie in Boksburg-Noord, gesê.

Twee verdagtes is elk by hul huise in die Angelo informele nedersetting buite Boksburg in hegtenis geneem. Een van die verdagtes het vir die polisie uitgewys waar hy Botha-Miller se selfoon verkoop het. Die twee mans het ook inligting aan die polisie verskaf waar die ander twee mans bly. “Beamptes het nog twee verdagtes by hul huise in Soweto vasgetrek,” het Coetzer gesê. Volgens haar is al vier die verdagtes in hul laat 20s.

Twee weke voor die Botha-Miller se moord is daar ook by haar huis ingebreek. “Die polisie het al die besittings wat uit haar huis, tydens die eerste inbraak en tydens die moord, gesteel is, opgespoor,” het Coetzer bygevoeg. “Al vier die mans word dus positief aan die moordtoneel en huisbraak verbind,” het Coetzer verduidelik.

Die verdagtes het Vrydag in die landdroshof in Boksburg verskyn en die saak is uitgestel tot verdere ondersoek. Die polisie wag ook nog vir die uitslae op die DNA.

Lees ook:
Bejaarde vrou het glo terugbaklei

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.