Botswana-olifanttwis: los Afrika om sy eie wild te bestuur

Argieffoto van olifante in die Chobe Nasionale Park in Botswana. elephants drink water in the Chobe National Park in Botswana. (Foto: AP Photo/Charmaine Noronha/File)

Botswana het reeds gewys hy kan sy eie wildlewe suksesvol bestuur. Die land moet dus geloof word vir sy bewaringspogings, nie berispe word nie.

Só sê prof. Peet van der Merwe, verbonde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se navorsingseenheid vir toerismenavorsing in ekonomie, die omgewing en samelewing (TREES), oor die twis tussen Botswana en Duitsland oor die invoer van jagtrofeë.

Maroela Media het vroeër berig Botswana se pres. Mokgweetsi Masisi het gedreig om 20 000 olifante Duitsland toe te stuur sodat Duitsers “saam met die diere leef, op die manier wat julle ons voorsê om te doen”.

Weens kommer oor stropery, het Duitsland ʼn verbod op die invoer van jagtrofeë na hierdie land voorgestel.

Botswana, met meer as 130 000 van die grootvoete, is die tuiste van die grootste olifantbevolking ter wêreld.

Masisi sê een manier om olifanttroppe te stuit wat plase, eiendomme en mense vertrap, is deur volhoubare jagpraktyke.

Van der Merwe meen ook plaaslike inwoners moet in beheer van die vasteland se bewaringspogings en die bestuur van wildlewe wees.

“Ek stem heeltemal saam met pres. Masisi oor hoe Botswana wild, veral olifante, wil bestuur. Afrika moet eienaarskap van sy eie wild neem. Ek dink dit is hoog tyd dat Duitsland en ander lande ophou om ons voor te sê oor hoe om ons wild te bestuur. Dit is ons wild en ons weet wat die beste manier is om dit te doen,” sê Van der Merwe.

“Botswana het ʼn baie goeie bewaringsbestuurstelsel en -model en hulle het oor die jare bewys hoe doeltreffend en volhoubaar hulle die land se wild kan bestuur. Jag is een van die instrumente wat jy kan gebruik om dit volhoubaar te doen.”

Volgens Van der Merwe is daar baie arm gemeenskappe in Botswana en jag genereer ʼn inkomste vir diegene daar.

“As hulle nie gewasse kan plant of oes nie omdat olifantbevolkings hul gewasse vernietig, wat staan hulle te doen? Hoe gaan hulle oorleef? Daardie geld kan gebruik word om dié gemeenskappe op te hef en daar kan beleggings in daardie gemeenskappe gedoen word,” sê hy.

Lande soos Botswana, Suid-Afrika, Namibië en Zimbabwe, om maar net ʼn paar te noem, het baie goeie bewaringsbestuurstrategieë. “Ons het gesonde wildbevolkings en ons het bewys dat ons dit volhoubaar kan bestuur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

DEON ·

Dit is waar, lande wat aan CITIES behoort en nie eens die tipe diere het of ken wat in Afrika voorkom, wil hierdie lande regeer deur hulle stemme in die CITIES seminare. Ky maar net na ons renoster horing handel wat nie internasionaal mag plaasvind nie. Sodra dit oopgestel word sal die slagting van renosters drasties afneem. Privaat boere kan ñ bestendige inkomste verdien deur hulle renoster horings te verkoop, die fondse kan aangewend word om sekuriteit op die diere te verhoog, wat stroping sal verminder. Dit is mos nou ñ baie goeie bewarings strategie om stroping van ons renosters te verminder en selfs finaal te smoor.

Michael ·

Ek dink die duitsers gee net om en moet beter ingelig word .

Reinald ·

Lekker gelag vir briljante Mokgweetsi Masisi! Kry allerhande verbeeldingsvlugte oor 20000 loslopende olifante in Duitsland!

Cassie Carstens ·

Die Duitsers moet maar hulle neuse uit Botswana se sake hou.

FBS ·

Om komentaar te lewer is goed. Moet tog net nie toe smeer wat in ons eie land aan die gang is nie. n minister wat diere wil vernietig omdat sy glo wat mense haar mee deel waarvan nie een met wild geboer of wild bewaar het nie. Waaar is al die leeus van Krugerpark? Maar die Minister wil die leeus wat soos konings leef en kan sorg dat die leeu nie uitsterf nie, indie parke sit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.