Bottelboodskap spoel by Kaapstad uit

Argieffoto

Toe die kaptein van ʼn duikboot in die middel van die Atlantiese Oseaan ʼn boodskap in ʼn bottel oorboord gegooi het, het hy gedink hy sal dit nooit weer sien nie.

ʼn Pa en seun het egter nou, twee jaar en twee maande later, kommodoor Darren White se boodskap op die strand by Pringlebaai, sowat 1 600 seemyl vanwaar dit in die see gegooi is, opgetel. White, die kaptein van die SAS Charlotte Maxeke, het aan die Cape Times gesê hulle was besig met oefeninge saam met die Suid-Amerikaanse vloot en het besluit om die bottel op pad huis toe in die see te gooi.

“Ek het ʼn wynbottel van ʼn funksie oorgehou terwyl ons verby Argentinië gevaar het. Ek het die boodskap getik, en ʼn foto van die bemanning saam met die boodskap in ʼn plastieksakkie in die bottel geplaas,” het White gesê. Die kaptein sê die bemanning het gelag toe hy die bottel in die see gegooi het.

Volgens die berig is die bottel verlede Saterdag, sowat 20 seemyl ver van White se vlootbasis by Simonstad, opgespoor. “Enigiets kon met die bottel gebeur het, maar dit het sy weg huis toe gevind. As ek hier by die werk [in Simonstad] staan, kyk ek oor die hawe na die plek waar die bottel uitgespoel het,” het ʼn tevrede White bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.