BraaiBoy braai nuwe wêreldrekord los

BraaiBoy

BraaiBoy is die nuwe braaikoning nadat hy die wêreldrekord verbeter het vir die persoon wat die langste aaneen kan braai.

BraaiBoy, oftewel Gareth Daniell van Pretoria, het Sondagoggend om 00:15 die wêreldrekord verbeter toe hy 62 uur, ses minute en 16 sekondes aaneen gebraai het. Die vorige wêreldrekord was 32 uur. Die rekordbraai het by SuperSport-park in Centurion plaasgevind.

BraaiBoy het bekendheid verwerf nadat hy op 17 April 2009 besluit het om elke dag te braai. Sedertdien het hy nog nie een dag gemis nie en is hy boonop ver van moeg vir braaivleis af. Tydens sy rekordpoging is Braai Boy vir elke uur wat hy gebraai het, ʼn vyf minute badkamerbreuk toegelaat. Verder moes hy die heeltyd agter die kole staan en sorg dat daar voortdurend vyf verskillende vleise op enige gegewe tyd op die braaier braai. ʼn Beampte van die Guinness World Records van Brittanje het Saterdagoggend by Braai Boy aangesluit en hom kort na middernag as die nuwe braaikoning gekroon.

Die foto is deur @BaasDeBeer op Twitter gelaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.