BraaiBoy ná sy wêreldrekord

BraaiBoy

Die feit dat BraaiBoy Sondagoggend die wêreldrekord vir die langste braai aaneen laat spat het, het teen Maandag nog nie heeltemal by hom ingesink nie. Tog was dié ondervinding vir BraaiBoy, oftewel Gareth Daniell van Pretoria, só ongelooflik dat hy besluit het om elke jaar een of ander Guiness Wêreldrekord aan te durf.

BraaiBoy het Sondagoggend om 00:15 die wêreldrekord verbeter toe hy uiteindelik 62 uur, ses minute en 16 sekondes lank aaneen gebraai het. Die vorige wêreldrekord was 32 uur. Dié rekordbraai het Donderdagoggend by SuperSport-park in Centurion begin.

BraaiBoy het bekendheid verwerf nadat hy op 17 April 2009 besluit het om elke dag te braai en het sedertdien nog nie een dag gemis nie.

Tydens die poging is BraaiBoy vir elke uur wat hy gebraai het, ʼn vyf minute badkamerbreuk toegelaat. Verder moes hy die heeltyd agter die kole staan en sorg dat daar voortdurend vyf verskillende kossoorte op enige gegewe tyd op die gebraai word. ʼn Beampte van die Guinness Wêreldrekords het Saterdagoggend van Brittanje af by BraaiBoy aangesluit en hom kort ná middernag as die nuwe braaikoning gekroon.

“Alles voel nog onwerklik. Gelukwensings stroom van alle oorde in en ek is nog baie oorweldig deur alles, maar ek is seker dit sal in die week begin insink,” het BraaiBoy aan Maroela Media gesê.

Die eerste ding wat hy gedoen het nadat hy sy marathonbraai voltooi het, was om te slaap. “Ek het in die kar op pad huis toe al aan die slaap geraak, gelukkig het ʼn vriendin my huis toe gevat, so ek was nie ʼn gevaar op die pad nie,” het BraaiBoy geskerts.

Sondag het hy lank in die bed spandeer, televisie gekyk en net “gechill”. “Ek het aspris gepoog om Saterdag ná middernag nog te braai, om my daaglikse kwota braai Sondagoggend vroeg in te kry. Ek het Sondag se vleis om 00:01 op die kole gegooi sodat ek later die dag nie weer hoef te braai nie,” het hy gesê.

Hy sê die 200kg vleis wat hulle vir die poging beplan het, is sowat alles gebruik. “Ons het vyf meer braaipakkies gebruik as wat ons geskat het. Gelukkig het ons 20 ekstra braaipakkies gehad, vir die wis en die onwis,” het hy bygevoeg.

Maroela Media het hom gevra hoeveel van die hope vleis wat hy gebraai het, hy self geëet het. “Ek het vir strategiese redes die eerste twee dae maar min geëet. Ek het meestal gesorg dat my lyf hidreer bly omdat ek die badkamerbreuke wou laat ophoop. Aan die begin het ek omtrent een braaipakkie se vleis geëet. Die laaste dag het ek egter seker so drie pakkies verorber.”

BraaiBoy is nog glad nie moeg vir vleis nie en gaan Maandagaand weer getrou agter sy braaier by die huis staan en sien uit daarna om ʼn lekker kruisskyf oor die kole te gooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.