BraaiBoy staan sterk ná 28 ure agter braaivleisvuur

BraaiBoy is sterk op pad om die wêreld se braairekord vir die langste braai aaneen, te laat spat. BraaiBoy, oftewel Gareth Daniell van Pretoria, poog tans om die huidige braairekord, wat op 32 ure staan, so te sê te verdubbel na 60 ure. Die poging vind tans by SuperSport-park in Centurion plaas.

BraaiBoy het bekendheid verwerf nadat hy op 17 April 2009 besluit het om elke dag te braai. Sedertdien het hy nog nie een dag gemis nie en is hy boonop ver van moeg vir braaivleis af.

BraaiBoy en sy span het nagenoeg 100 sakke houtskool, 200 braaipakkies met vyf verskillende. Hy word vir elke uur wat hy braai, ʼn vyf minute badkamerbreuk toegelaat. Dié tyd kan opgehoop word. Verder moet hy die heeltyd agter die kole staan en sorg dat daar voortdurend vyf verskillende kosse op enige gegewe tyd op die braaier braai. Die poging word 24 uur lank op ʼn kamera opgeneem en onafhanklike beamptes is ook op die perseel om die verloop te monitor. ʼn Beampte van die Guinness World Book Of Records van Brittanje gaan Saterdagoggend by BraaiBoy aansluit en by hom bly tot om middernag, wanneer Suid-Afrikaners gaan weet of hulle ʼn nuwe braaikoning kan kroon.

Maroela Media het 28 ure vandat die eerste vleisie op die kole gegooi is by hom gaan inloer om te hoor hoe dit gaan.

“Die ervaring is ongelooflik! Ek is bietjie moeg, maar gaan voluit,” het BraaiBoy gesê.

BraaiBoy sê die ergste sover was om Vrydagoggend tussen 03:00 en 06:00 wakker te bly. “SuperSport-park is doodstil in die aand en dit was yskoud, maar gelukkig soos wat die son sy kop uitgesteek het, het ek weer begin spoed vang en staan nog sterk.”

Appels, piesangs, wilskrag en “die mense se ondersteuning” stook tans BraaiBoy se eie vuur. Hy sien die minste uit na Saterdagoggend tussen 03:00 en 06:00. Waarna hy die meeste uitsien is om die kroon van die oorwinningsbiertjie Saterdag te knak.

“Ek gaan definitief vir 60 ure braai, ek is naby daaraan om die 32 uur-rekord te breek, en gaan daarna net deurdruk vir die laaste peilvlak,” het BraaiBoy gesê. BraaiBoy nooi almal wat in die omgewing is om te gaan inloer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.