BraaiBoy vuur en vlam vir wêreldrekord

Binne twee dae skop ʼn marathon-braai in Pretoria af, wat gaan poog om die huidige Guinness-wêreldrekord vir die langste braai te verpletter. Agter die braai staan ʼn trotste boorling van dié stad, BraaiBoy, oftewel Garerth Daniell. Die rekord staan tans op 32 ure, maar BraaiBoy beplan om dit byna te verdubbel deur 60 ure agter ʼn braaivleisvuurtjie te staan.

BraaiBoy, het bekendheid verwerf nadat hy op 17 April 2009 besluit het om elke dag daarna te braai. Sedertdien het hy nog nie een dag gemis nie en is hy boonop ver van moeg vir braaivleis af.

“Die senuwees skop in, ons is hard aan die werk om alles in plek te kry, maar is gereed om die drie dae se wakkerbly en braai aan te pak,” het BraaiBoy Dinsdag aan Maroela Media gesê.

“Ek beplan verskillende strategieë om wakker te bly. Ek het spanne vriende en ondersteuners wat om die beurt gaan kom om my geselskap te hou, en dan die belangrikste is om die gestel aan die gang te hou deur verskillende kosse te eet wat strek van lemoene tot kruie soos Siberiese ginseng, vir energie,” het BraaiBoy gesê.

Die Guinness-wêreldrekord assosiasie het streng maatreëls wat gevolg moet word as BraaiBoy sy naam in die rekordboeke wil verewig.

Daar moet voordurend vyf verskillende kosse op enige gegewe tyd op die braaier wees. Alle kosse moet van rou af gaargemaak word en geen opwarming word toegelaat nie. Alle kos moet geëet word ná dit gaargemaak is. BraaiBoy het ondersteuners genooi om te kom inloer en te help eet aan die kos.

Die poging begin om 08:00 op 23 Augustus by SuperSport-park in Centurion. Maroela Media sal daar wees om dié gebeurtenis te dek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.