Braaier uit winkels verwyder wat glo giftige nikkel afskei

Die braaier wat vir eers verwyder gaan word hangende die uitkom van toetse.

Die braaier wat vir eers verwyder gaan word hangende die uitkom van toetse.

Massdiscounters, waaraan Game-kettingwinkels behoort, het Woensdag gesê hulle gaan ʼn sekere braaier uit sy winkels verwyder nadat dit onder Maroela Media se aandag gekom het dat die braaier se rooster glo nikkel afskei indien dit gebruik word.

Nikkel is giftig as mens te veel van dié swaarmetaal inneem.

Anton Strydom, ʼn Maroela-leser van Gauteng, het die dag ná Kersfees ʼn Out & About-braaier by die Game in Boksburg gekoop. Dit is ʼn klein braaier en hy het dit gekoop omdat dit glo ideaal sou wees om op sy woonstel se balkon te gebruik.

“Die aand toe ek daarop braai, het ek gesien die wors het silwer lyne op. Ek het spesiaal voor die tyd die braairooster gewas omdat dit nuut is,” het Strydom gesê. Sy broer is ʼn ingenieur en hulle het besef dat die rooster met nikkel geplateer is om die rooster die voorkoms van vlekvrye staal te gee.

Strydom het die vervaardigers van die braaier geskakel wat Maandag glo aan hom bevestig het dat hulle wel nikkel op hul roosters plateer. Dit word egter nie op die braaier se verpakkingmateriaal só aangedui nie, en daar is ook nie ʼn Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde (SABS)-stempel op die verpakking nie.

Prof. Ayo Afolabi, ʼn professor van ingenieurswese aan Unisa, het aan Maroela Media gesê nikkel is skadelik vir ʼn mens, veral as dit in ʼn groot mate ingeneem word. “Dit kan ʼn mens se bloed só verdik dat bloedklonte voorkom. Dit kan ʼn mens se hart ook erg beskadig,” het Afolabi gesê. ʼn Mens se kanse vergroot ook om kanker, sowel as asma of brongitis op te doen. Dit kan ook ʼn allergie op ʼn mens se vel veroorsaak, veral as gevolg van nikkel-geplateerde juwele.

Tyrone Vieira, die direkteur van goedere vir Massdiscounters, het op navraag van Maroela Media Strydom bedank dat hy die kwessie onder hul aandag gebring het.

“Game het na dié navraag besluit dit is in sy klante se beste belang om al dié braaiers, wat nog nie verkoop is nie, uit ons winkels te onttrek,” het Vieira gesê. “Die proses neem gewoonlik 48 uur om uit te voer. Ons het reeds gereël dat monsters van die produk onafhanklik deur die SABS getoets en ontleed word. Ons het ook die vervaardiger van die produk geskakel en hul opdrag gegee om hul beoordeling van die situasie aan ons te verskaf.”

Vieira het onderneem om Maroela Media op hoogte te hou van verwikkelinge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.