Brandbestrydingsvliegtuig doen noodlanding

Foto: OFM

ʼn Brandbestrydingsvliegtuig is Donderdag naby Koopmansfontein in die Noord-Kaap gedwing om te land toe dit enjinprobleme opgedoen het.

“Ons vlieënier is gedwing om ʼn noodlanding uit te voer nadat die enjin onklaar geraak het,” het Saayman Rossouw, woordvoerder van Working on Fire (WoF) gesê. Die vliegtuig was besig om ʼn brand te bestry. “Die vlieënier en sy passasier het slegs geringe beserings opgedoen,” het Rossouw gesê.

Volgens Rossouw is meer as 100 000 hektaar veld afgebrand in dié brand wat ʼn week gelede begin het. Meer as 50 beeste het in die brand omgekom.

Brandbestryders, insluitend drie weermaghelikopters, het Donderdag gepoog om die brand te bestry. “Ons het tans drie helikopters van die weermag, een van ons eie [WoF] en twee vliegtuie, en teen Donderdagaand het die brand steeds gewoed,” het Rossouw bygevoeg. Die span het Vrydagoggend omstreeks 05:00 weer begin, aangesien hulle nie in die aand kan volhou nie.

Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.