‘n 27-jarige man is Saterdag na ‘n hospitaal geneem nadat hy glo ‘n rugbesering opgedoen terwyl hy branderplank gery het.
“Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) Kommetjie-span en Cape Medical Response (CMR) is Saterdag omstreeks 11:40 ontbied na die Duine, ‘n gewilde strand vir branderplankryers by Noordhoek,” het Tom Coetzee, stasiebevelvoerder van NSRI Kommetjie, gesê. “Die man van Newlands, Kaapstad, het op die strand gelê nadat hy vermoedelik ‘n rugbesering opgedoen het. Dit lyk of die branderplankryer ‘n vorige rugbesering vererger het, maar dit is nog nie bevestig nie.”
Volgens Coetzee het hulle die branderplankryer stabiliseer en het hulle, as ‘n voorsorgmaatreël, volle spinale immobilisasie toegepas voordat hy met ‘n helikopter na ‘n hospitaal geneem is.
Dokters het intussen bevestig dat hy ‘n kompressiebreuk van die servikale werwelkolom opgedoen het.