Branderplankryer help toe man by Seepunt verdrink

Die toneel by Seepunt Foto: NSRI

Die toneel by Seepunt Foto: NSRI

ʼn 30-jarige man het Sondagmiddag by Rocklandsstrand naby Seepunt verdrink, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gesê.

““ʼn 30-jarige man van Elsiesrivier het in die moeilikheid beland terwyl hy geswem het,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, in ʼn verklaring gesê.

Die man se 20-jarige vriend, ook van Elsiesrivier, het glo die golwe aangedurf om hom te help, maar het toe self in die moeilikheid beland. Lede van die publiek het ʼn ambulans, wat in daardie stadium verbygery het, se aandag getrek en die ambulans van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het afgetrek.

Die 20-jarige man het in daardie stadium probeer om uit die water te kom, maar die see het hom telkens teruggetrek wanneer die golwe oor die rotse gespoel het. “Benwin Greeff, een die nooddienswerkers van die ambulans, het ʼn paar kledingstukke uitgetrek en sowat heuphoogte in die water gegaan om die man te help en het hom bo-op die rotse en uit gevaar getrek,” het Lambinon gesê.

Goolam Mowzer, die ander nooddienswerker van die ambulans, het intussen reeds hulp ontbied. Die noodreddingspan van die departement, NSRI Bakoven en NSRI Tafelbaai, Kaapstadse Brand en Reddingsdiens, LifeCare-nooddienste, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, ER24-ambulansdienste en die polisie se duikeenheid het reageer.

Die nooddiensspanne moes toe na die vermiste man begin soek en lewensredders van Clifton het ook help soek.

“Wesley Billett (22), ʼn lid van die publiek, wat met ʼn branderplank gery het, het ook help soek na die man. Lede van die publiek het gesien ʼn liggaam spoel teen die rotse en Billett het die man met sy branderplank na ʼn plek op die rotse kon neem waar Greeff en Shanton Petersen, beampte van die Kaapstadse brand- en reddingsdiens, by hom kon uitkom,” het Lambinon verduidelik. “Hulle het die man se lewelose liggaam op die rotse geplaas en het tevergeefs KPR op die man toegepas. Hy op die toneel dood verklaar. Die polisie sal ʼn geregtelike doodsondersoek doen.”

Die 20-jarige man is met ʼn ambulans na ʼn hospitaal geneem vir sekondêre verdrinkingsimptome en sal na verwagting ten volle herstel.

Die liggaam van die 30-jarige man is aan die polisie se forensiese patologiediens oorhandig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.