Brandslagoffer word Vrydag begrawe

Die 12-jarige Michael van Vuuren, wat Dinsdagaand oorlede is ná hy erg gebrand het toe hy sy fiets wou red, word Vrydag begrawe.

Michael, ʼn leerling aan Laerskool Silverton, het 80% brandwonde oor sy lyf opgedoen ná die drieslaapkamer-houthuis waarin hy saam sy ouers gebly het, omstreeks 02:00 afgebrand het. Sy ma, Rina, en pa, Johan, het geringe brandwonde opgedoen. Michael het gebrand toe hy terug in die huis in gehardloop het om ʼn nuwe fiets tevergeefs te probeer red. Sy sussie het glo onlangs vir hom dié nuwe fiets vir sy verjaardag gekoop.  Hy was, sedert die voorval op 15 Julie plaasgevind het, in ʼn kritieke toestand in die hoësorgeenheid by die Steve Biko-hospitaal.

Annerie du Plooy, van die Hero Burn Foundation, het aan Maroela Media gesê Michael sal Vrydag 12:00 vanuit die Volle Evangelie Kerk in Silverton begrawe word. Die kerk is geleë in Jasmynlaan 550 en almal is welkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.