Brandstofprys: Hoë styging verwag

Februarie gaan weer slegte nuus vir motoriste bring – dalk selfs ʼn nuwe rekordhoogtepunt in die petrolprys met ʼn moontlike styging van 43c.

“Alhoewel die finale stygings eers Vrydagmiddag aangekondig word, kan daar egter reeds met redelike sekerheid ʼn aanduiding gegee word van wat om te verwag,” het Paul Joubert, senior navorser by Soldariteit se Navorsingsinstituut, gesê. Joubert se vooruitskattings van brandstofprysveranderings is gewoonlik baie akkuraat.

“Sedert middel Januarie het internasionale petroleumprodukpryse in dollar beduidend toegeneem. Dit, eerder as die onlangse verswakking in die rand/dollar-wisselkoers, het die grootste druk op die plaaslike pryse geplaas,” het hy aan Maroela Media gesê.

Die kleinhandelprys van petrol sal met ongeveer 43c styg, terwyl die groothandelprys van diesel met ongeveer 20c sal styg. Daar word egter tans ʼn leiheffing van 8,78c per liter op beide petrol en diesel gehef. Dit is moontlik dat hierdie heffing in Februarie heeltemal opgehef sal word, of tot 6,58c of 4,38c per liter verlaag sal word. “Dit sal die finale verhogings van petrol- en dieselpryse ook dus dienooreenkomstig laat verklein.”

Die nominale rekordprys vir 93-oktaan petrol in Gauteng is in Mei 2012 bereik, toe die prys R12,05 per liter was. Die prys van 93-oktaan petrol moet dus met 41c of meer styg om ʼn nuwe rekordprys te bereik.

In Mei 2012 was 95-oktaan petrol se rekordprys R12,22 per liter. Die prys van 95-oktaan petrol moet met minstens 37c styg om ʼn nuwe rekordvlak te bereik. “Afhangende van wat met die leiheffing gebeur, kan nuwe nominale rekordpryse dus in Februarie bereik word. In reële terme was Julie 2008 se pryse egter steeds die hoogste ooit gewees,” het Joubert bygevoeg.

Joubert voorspel ook slegte nuus vir Maart se brandstofpryse. “Hoewel die onlangse verswakking in die waarde van die rand nie ʼn groot invloed op Februarie se brandstofpryse uitgeoefen het nie, sal dit wel ʼn groot invloed op Maart se pryse hê indien die rand deur die loop van Februarie steeds swak bly. Dit kan veroorsaak dat die prys van petrol in Maart met sowat 75c per liter kan styg, hoewel dit nog heeltemal te vroeg is om enige goeie vooruitskattings te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.