Brandstofprys styg om middernag

petrolMotoriste maak gereed vir ʼn brandstofprysverhoging wat vanaand om middernag in werking tree.

Die departement van energie het Vrydag die brandstofprysverhoging vir Maart aangekondig. Die prys van alle grade petrol sal om middernag vanaand 36 sent per liter styg. Dit sal beide die pryse van 93-oktaan en 95-oktaan petrol in Gauteng vir die eerste keer bokant R14 per liter te staan laat kom, hoewel dit reeds voorheen verder in die binneland reeds duurder as R14 per liter was. Die prys van 93-oktaan petrol in Gauteng sal tot R14,32 styg, terwyl 93-oktaan nou R14,11 sal kos.

Paul Joubert, ʼn senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut, het Dinsdag aan Maroela Media gesê in die noordelike deel van die Gordonia-streek in die Noord-Kaap, waar petrol die heel duurste in Suid-Afrika is, sal 93-oktaan petrol om middernag sowat R14,80 kos. “Hierdie streek sluit plekke soos Askham, Twee Rivieren en Mier in. Brandstof is duurder in sulke afgeleë streke weens die hoër koste om dit per pad daarheen te vervoer,” het Joubert gesê.

Diesel met ʼn swawelinhoud van 0,05% se groothandelprys sal met 27,2 sent per liter styg en diesel met ʼn 0,005%-swawelinhoud met 28,2 sent. Die kleinhandelprys van diesel word nie gereguleer nie, en eienaars van vulstasies kan self besluit teen watter prys hulle dit aan motoriste wil verkoop.

“Die prys van brandstof het verhoog weens ʼn swakker rand/dollar-wisselkoers gemiddeld in Februarie teenoor die gemiddeld vir Januarie,” het Joubert bygevoeg. “Die rand het in Januarie gemiddeld teen R10,81 teenoor die Amerikaanse dollar verhandel, maar gemiddeld in Februarie teen R11,01 verhandel, ten spyte van die versterking tot R10,80 in die laaste dae van Februarie. Internasionale petroleumprodukpryse het ook gedurende Februarie gemiddeld teen hoër pryse as in Januarie verhandel. Die “slate levy” of leiheffing, ʼn tegniese heffing wat maandeliks kan wissel, het ook met 2,2 sent gestyg.”

Joubert het gesê die styging van 12 sent in die algemene brandstofheffing en die styging van 8 sent in die Padongelukkefondsheffing wat verlede week deur Pravin Gordhan, die minister van finansies, aangekondig is, sal eers op 2 April ingestel word. “Hierdie styging van 20 sent kan potensieel die gunstige effek van ʼn sterker rand deur die loop van Maart op brandstofpryse uitkanselleer,” het Joubert afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.