Brandstofprys vir Augustus bekyk

Paul Joubert, ʼn senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut, het Donderdag ‘n voorspelling gewaag oor die brandstofprys vir Augustus.

Joubert sê motoriste kan moontlik ‘n styging te wagte wees, maar voeg by dat dit moontlik nie so erg sal wees soos wat sommige mediahuise berig nie.

Business Report het Woensdag berig ‘n dubbele petrolskok wag op motoriste. Hulle het berig dat ‘n voorlopige berekening wat deur die departement van energie uitgereik is, dui daarop dat die petrol op 7 Augustus tot 61c per liter meer gaan kos. Dié berekening is gebaseer op internasionale oliepryse, sowel as die verhandelingskoers van die rand vanaf 28 Junie tot 2 Julie.

“Die manier waarop die oor- of onderverhaling in die petrolprys bereken word, veroorsaak dikwels dat, vir die eerste drie weeksdae nadat ʼn groot styging in die prys aangekondig is, daar steeds ʼn groot onderverhaling in die prys is,” het Joubert Donderdag aan Maroela Media gesê.

“Dit is omdat die tydperk wat vir die berekening van die prys gebruik word, en die tydperk waarin die prys geldig is, slegs gedeeltelik oorvleuel. Die datums wat hulle gebruik het, is juis die datums waar die tydperke nie oorvleuel nie, van die 28ste tot die 2de.”

Joubert het gesê in werklikheid dui die syfers tans daarop dat daar slegs ʼn geringe styging in die prys van petrol sal wees in Augustus van sowat 10c. “Indien oliepryse weer stabiliseer namate die Egiptiese situasie stabiliseer, kan daar heel waarskynlik selfs ʼn daling in Augustus wees. Dit is egter nog, selfs met die korrekte formule, te vroeg om ʼn goeie voorspelling te kan gee,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.