Met internasionale petroleumprodukpryse wat sedert 2 April drasties gedaal het, en die rand wat ook sedert 4 April heelwat veld teen die dollar gewen het, lyk die vooruitsigte vir dalings in plaaslike brandstofpryse baie goed.
Paul Joubert, ʼn senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut, het Dinsdag aan Maroela Media gesê indien internasionale petroleumprodukpryse en die wisselkoers vir die res van April op hul huidige sterk vlakke bly, voorspel dit ʼn daling van ongeveer 60c per liter petrol en sowat 40c per liter diesel.
“Die verdere faktor wat ter sprake is, is die leiheffing wat tans op sowat 22c per liter vir petrol en diesel staan. Hierdie vlak is buitengewoon hoog en die kans is goed dat dit in Mei verlaag sal word, dalk selfs met die volle 22c. Dit sal die daling vir petrol dan tot meer as 80c stoot en meer as 60c vir diesel,” het Joubert gesê.
Hy sê daar is ʼn kans dat groter dalings kan voorkom, sou die huidige afwaartse tendense in internasionale pryse, sowel as die versterking in die wisselkoers van die rand, vir die res van April voortduur. “Die skattings is gedoen op ʼn veronderstelling dat die huidige vlakke konstant bly, maar as die afwaartse trajek voortduur, kan die daling in petrol se prys in Mei dalk vir die eerste keer sedert Januarie 2009 ʼn rand per liter oorskry. Die volgende twee weke sal die deurslag hieroor gee,” het Joubert bygevoeg.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
3 Kommentare
Good news!!
Die regering sal nooit die bransdstofprys laat val nie! Dit is tans al waarmee hulle Zuma se lee gebloftes kan vul, en hulle self verryk. Dit is te maklik, om SA teen ander lande te vergelyk, en sodoende met poef weg te kom.