Brandstofpryse: Groot daling verwag

Met internasionale petroleumprodukpryse wat sedert 2 April drasties gedaal het, en die rand wat ook sedert 4 April heelwat veld teen die dollar gewen het, lyk die vooruitsigte vir dalings in plaaslike brandstofpryse baie goed.

Paul Joubert, ʼn senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut, het Dinsdag aan Maroela Media gesê indien internasionale petroleumprodukpryse en die wisselkoers vir die res van April op hul huidige sterk vlakke bly, voorspel dit ʼn daling van ongeveer 60c per liter petrol en sowat 40c per liter diesel.

“Die verdere faktor wat ter sprake is, is die leiheffing wat tans op sowat 22c per liter vir petrol en diesel staan. Hierdie vlak is buitengewoon hoog en die kans is goed dat dit in Mei verlaag sal word, dalk selfs met die volle 22c. Dit sal die daling vir petrol dan tot meer as 80c stoot en meer as 60c vir diesel,” het Joubert gesê.

Hy sê daar is ʼn kans dat groter dalings kan voorkom, sou die huidige afwaartse tendense in internasionale pryse, sowel as die versterking in die wisselkoers van die rand, vir die res van April voortduur. “Die skattings is gedoen op ʼn veronderstelling dat die huidige vlakke konstant bly, maar as die afwaartse trajek voortduur, kan die daling in petrol se prys in Mei dalk vir die eerste keer sedert Januarie 2009 ʼn rand per liter oorskry. Die volgende twee weke sal die deurslag hieroor gee,” het Joubert bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Fred ·

Die regering sal nooit die bransdstofprys laat val nie! Dit is tans al waarmee hulle Zuma se lee gebloftes kan vul, en hulle self verryk. Dit is te maklik, om SA teen ander lande te vergelyk, en sodoende met poef weg te kom.

Paul Joubert ·

Hallo Fred

Hoe verklaar jy dan die objektiewe feit dat brandstofpryse wel dikwels daal? Januarie 2013, Desember 2012, November 2012, Julie 2012, Junie 2012, Januarie 2012, Desember 2011… So kan ek aangaan.

Die feit is dat die regering NIE meer geld uit brandstofheffings maak wanneer die prys styg nie – inteendeel. Omdat die heffings op brandstof vaste bedrae is (wat slegs in April elke jaar verander word), is AL wat die staat se inkomste uit brandstofheffings affekteer, die hoeveelheid brandstof wat verkoop word. Die algemene brandstofheffing op petrol is tans R2,125 per liter. Dit bly vas. Dis nie soos BTW wat ‘n persentasie van die onderliggende prys is nie.
As die prys van petrol dus sou styg tot R20 per liter, maar die heffing by vas op R2,125 per liter, sal die staat minder geld maak, aangesien mense hul verbruik van petrol sal inkort weens die hoër prys.

Daar is baie dinge waarvan mens die staat met reg kan beskuldig, maar dat hulle geld wil maak met die algemene stygings in brandstofpryse is nie een daarvan nie.

Lees gerus hierdie ou artikel wat dit breedvoerig verduidelik: http://www.solidariteit-blog.co.za/daar-is-geen-brandstofpryskomplot-nie/

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.