Bravo, Bokke, bravo!

Argieffoto

Die Springbokke het die Argentynse Pumas vanaand in Soweto met 73-13 verneder in hul eerste Rugbykampioenskap-kragmeting. Die rustydtelling was 26-6.

Hiermee het hulle ’n onheilspellende waarskuwing aan die All Blacks gerig dat wat die Nieu-Seelanders kan doen, die Bokke selfs beter doen. Die All Blacks het vandag ses drieë in hul 47-29 oorwinning oor die Wallabies gedruk, maar die Bokke het nege gedruk. Hulle het ook hul grootste telling nog teen die Pumas aangeteken.

Daarbenewens het Morné Steyn ’n rekord verbeter. Sy 28 punte is die meeste punte nog deur ’n Springbok teen Argentinië. Hy het met agt doelskoppe en vier strafskoppe geslaag en slegs een uit sy 13 pogings pale toe verbrou.

Die eerste 20 minute was taamlik saai en morsig met albei spanne wat klaarblyklik nog nie te veel kanse wou waag nie. Steyn het tydens hierdie periode drie strafdoele deur die pale gejaag en die Argentynse kaptein, Felipe Contepomi, het sy span se rekening met ’n strafdoel in die 17de minuut geopen en daarna nog een behaal.

’n Strafdrie is aan die Bokke toegeken nadat die Pumahaker, Eusebio Guinazu, ’n aangee van Adriaan Strauss na Ruan Pienaar doelbewus afgeklap het. Guinazu het ‘n geelkaart ontvang en Steyn het die twee punte bygevoeg: 16-6.

Die Bokke het toe duidelik na ’n hoër rat oorgeskakel. Willie le Roux het ná omgekeerde besit die bal vorentoe geskop, waarna dit vir JJ Engelbrecht reg gewip het vir ‘n drie onder die pale.

Die Bokke se voorspelers het robuuste lopies gelewer met veral spelers soos Eben Etzebeth, Willem Alberts en Strauss wat die voordeellyn telkens ver oorgesteek het. Steyn het die laaste punte van die eerste helfte met ’n strafdoel aangeteken.

Die tweede helfte was pynlik vir die Pumas met die Bokke wat elke kans tot hul beskikking wou gebruik om drieë te druk en selfvertroue op te bou.

Strauss het sy span se derde drie en sy vierde toetsdrie in die 47ste minuut van ’n dryfmaalbeweging gedruk. Willem Alberts het kort daarna die bonuspuntdrie uit ’n byna identiese beweging gedruk. Jean de Villiers het op die koop toe een van sy kenmerkende onderskepdrieë gedruk en verseker sy span wen hul debuuttoets in vanjaar se reeks.

Die Bokke se groot voordele in hierdie periode was dat hulle in die Argentyne se gebied geboer en dat hul voorspelers se krag hul teenstanders heeltemal oorweldig het.

Fourie du Preez was skaars op die veld toe Bryan Habana na een van sy breekslae kort voor die doellyn platgetrek is en die legendariese skrumskakel die bal opgetel en oorgeduik het. Du Preez het daarna ’n lang aangee naby die doellyn na Habana gestuur sodat die Bok-vleuel in die hoekie kon afrond.

Duane Vermeulen het daarna ’n binnetoe-aangee deur Steyn op volle vaart gevang en oorgeval vir die agtste drie, waarna Bismarck du Plessis ook ‘n drie gedruk het.

Contepomi het, à la James O’Connor in vanoggend se stryd tussen die Wallabies en All Blacks, teen die einde vir sy span ’n troosdrie gedruk. Hy het dit ook verdoel en daarmee al sy span se 13 punte aangeteken.

Hierdie twee spanne ontmoet mekaar volgende week in Mendoza, Argentinië, in hul tweede en finale kragmeting in die Rugbykampioenskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Seg Net ·

Wel verdiend en wel gedaan. Moet net nie dink julle is nou goed genoeg en weer teen die All Blacks vasval nie. Baie goeie rugby met min foute.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.