Breindood-tiener word steeds behandel

Jahi McMath

Jahi McMath

Jahi McMath, die 13-jarige tiener van Oakland in Amerika wat weens komplikasies ná ʼn mangeloperasie breindood verklaar is, is op versoek van haar familie uit die kinderhospitaal oorgeplaas na ʼn ander fasiliteit.

“Sy lyk vreedsaam. Dit lyk of sy slaap en ek dink dat ek haar selfs sien glimlag het toe sy uit die hospitaal weg is,” het haar oom, Omari Sealey, gesê.

Jahi is op 12 Desember breindood verklaar toe sy skielik ʼn hartaanval gekry het ná ʼn mangeloperasie op 9 Desember om haar slaapapnee te behandel.

Die dokters van die kinderhospitaal in Oakland en ʼn regter het haar breindood verklaar en wou die masjiene afskakel, maar haar familie het hulle tot die hof gewend om te verhoed dat die masjiene afgeskakel mag word. Die regter het beslis dat sy uit die kinderhospitaal geskuif moet word.

Sy is nou na ʼn ander fasiliteit geskuif, maar die familie wil, weens sekuriteit- en privaatheidsredes nie bekend maak waarheen sy geskuif is nie.

Die familie voer aan die kinderhospitaal het haar nie voldoende voeding toegedien nie. Sy word nou glo ook met antibiotika behandel vir infeksies wat sy opgedoen het terwyl sy in die bed bly lê het. “Sy word nou soos die onskuldige dogtertjie behandel wat sy is, en nie ʼn afgestorwe liggaam soos die kinderhospitaal haar behandel het nie,” het Sealey gesê.

Die kinderhospitaal hou vol dat Jahi breindood is en dat dié toestand nie kan verander nie. “Geen hoeveelheid gebede, hoop, of enige tipe mediese prosedure gaan haar terugbring nie,” het Sam Singer, woordvoerder van die hospitaal, verlede maand gesê. “Die mediese situasie is dat sy ʼn paar weke gelede reeds gesterf het.”

Die lykskouer van Alameda County het Vrydag ʼn doodsertifikaat uitgereik wat 12 Desember as datum van afsterwe aantoon, berig CNN. Die departement van gesondheid moet egter nog eers die sertifikaat aanvaar voordat dit amptelik sal wees.

Lees ook:
Ma steeds vol hoop al is tiener breindood ná mangeloperasie

Bron:
CNN
NBC News
Vancouver Sun

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.