Aanklaer Glynnis Breytenbach en haar prokureur, Gerhard Wagenaar, gaan glo ‘n aansoek by die arbeidshof indien teen haar heraanstelling.
“’n Aansoek sal hierdie week by die arbeidshof ingedien word om die besluit deur die nasionale direkteur van Openbare Vervolging (NDPP) tersyde te stel,” het Wagenaar Saterdag gesê. “Die NDPP het besluit om haar van die kantoor van die spesialemisdaad-eenheid na die kantoor van die direkteur van Openbare Vervolging in Pretoria te skuif.”
SABC Radio het Vrydag berig dat Breytenbach Donderdagaand skriftelik in kennis gestel is dat sy geskuif gaan word. “Ons het ‘n brief net voor 19:00 ontvang wat aandui dat sy na die kantoor van die direkteur van Openbare Vervolging in Pretoria geskuif sal word,” het Wagenaar Vrydag gesê.
Die Nasionale Openbare Vervolger (NPA) het Donderdag bevestig dat hy ‘n aansoek by die arbeidshof ingedien het om die uitslag van die dissiplinêre verhoor, wat Breytenbach op alle aanklagte onskuldig bevind het, te hersien. Breytenbach is op 27 Mei deur ‘n dissiplinêre verhoor onskuldig bevind op 15 aanklagte teen haar. Een van die aanklagtes was dat sy nie onpartydig opgetree het toe sy die Kumba Iron Ore/Sishen en Imperial Crown Trading-mynregtedispuut ondersoek het nie, weens ‘n “onbehoorlike verhouding” met Sishen se prokureur Mike Hellens.
Nadat die bevindings bekend gemaak is, het die NPA gesê hy het die “feitlik verkeerd en wetlik onvolhoubaar” bevind en sal die hof versoek om die uitslag te hersien.
Bulelwa Makeke, uitvoerende bestuurder vir kommunikasie by die NPA, het Woensdag gesê Breytenbach is by die werk, maar die NPA wil nie werksake met die media bespreek nie. Eyewitness News het egter Donderdag berig dat Breytenbach die hele week lank nog nie gewerk het nie. Nomilo Mpondo, woordvoerder vir die NPA, het Donderdag gesê Breytenbach is aangesê om Maandag terug te keer werk toe. Die NPA het benadruk dat hy nie haar daaglikse bewegings met die media gaan bespreek nie.
-SAPA
Lees ook:
Breytenbach word geskuif
Breytenbach terug werk toe
Glynnis Breytenbach onskuldig
Skote geskiet op geskorste Mdluli-aanklaer
Ek wonder nou maar net hoeveel van die belastingbetalers se geld wil hierdie spul nog mors om van een ekele persoon ontslae te raak. Waarskynlik een van die heelbestes wat hulle het. Ek dink dit het tyd geword dat die NPA gedwing word om bekend te maak hoeveel geld is al reeds aan hofsake teen Glynnis gemors en hoeveel is hulle van plan om nog te vermors. Die land is howe is in so ‘n gemors want daar is nie geld om iets te doen nie, maar daar is miljoene rande om op ‘n vrou te mors wat maar net haar werk gedoen het en dit om een van Zuma se maatjies te beskerm!