Breytenbach word geskuif

Advokaat Glynnis Breytenbach. Foto: Werner Beukes/Sapa

Adv. Glynnis Breytenbach is Donderdagaand in kennis gestel dat sy verskuif gaan word.

Volgens Gerhard Wagenaar, haar prokureur, is hulle Donderdagaand laat skriftelik van dié stap in kennis gestel, het SABC-radio Vrydag berig. Breytenbach gaan vanaf die handelsmisdaad-eenheid van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) na die kantoor van die nasionale direkteur van Openbare Vervolging (OV) verskuif word.

Nomgcobo Jiba, waarnemende hoof van die NVG, het Donderdag ʼn aansoek by die arbeidshof ingedien om die uitkoms van Breytenbach se dissiplinêre verhoor te hersien. Sy is onlangs ná ‘n uitgerekte interne verhoor by die NVG se hoofkantoor in Pretoria, vrygespreek op 15 aanklagte teen haar.

Een van die aanklagte was dat sy versuim het om onpartydig op te tree in die mynregte-dispuut tussen Imperial Crown Trading (ICT) en Sishen/Kumba, as gevolg van “onbehoorlike verhoudings” met Sishen se prokureur, Mike Hellens. Die aanklagte is as “feitelik verkeerd en wettig onvolhoubaar” afgemaak.

EWN het Donderdag berig dat Breytenbach glad nie dié week by die werk was nie, al het die NVG verlede week bevestig dat sy Maandag sou begin werk het. Volgens Nomilo Mpondo, die NVG se woordvoerder, is Breytenbach aangesê om volgende Maandag terug te keer werk toe, en dat die NVG nie haar daaglikse bewegings met die media gaan bespreek nie.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.