Brian Boswell-sirkus reageer op aantygings

Te midde aantygings van mishandeling van olifante by die Brian Boswell-sirkus, het die eienaars van die sirkus Dinsdag gesê dit was geïsoleerde voorvalle.

Beeldmateriaal is in Desembermaand geneem van twee sirkuswerknemers wat glo olilfante mishandel. “Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het ons teen die einde van Januarie in kennis gestel dat hulle oor beeldmateriaal van ʼn “ontstellende aard” beskik,” het Georgina Boswell Woensdag aan Maroela Media gesê. Georgina is deel van dié familie wat die sirkus al vir bykans 31 jaar lank besit.

“Ons is ontstoke oor die beeldmateriaal van die DBV wat aandui dat die hanteerders die vertroue, wat die olifante in hul geplaas het, misbruik het en die olifante geslaan het,” het Georgina gesê. “Die beeldmateriaal is reeds in Desember geneem, maar ons het dit Sondagaand op Carte Blance vir die eerste keer gesien. As ons dit vroeër gesien het, kon ons vroeër iets daaraan gedoen het.”

Georgina sê nadat die DBV hulle teen die einde van Januarie oor die beeldmateriaal ingelig het, het hulle versoek om dit te sien. “Die DBV het gesê dat hulle die beeldmateriaal nie aan ons kan stuur nie, weens die kriminele klagtes wat aanhangig gemaak is. Ons het nie hieroor iets van die DBV gehoor nie, ondanks 17 inspeksies deur verskeie DBV-inspekteurs sedert Desember 2012.” Ondanks talle inspeksies deur die DBV aan die sirkus, kon daar glo nog nie vantevore enige bewyse van dieremishandeling by die sirkus bekom word nie.

“Die volgende keer wat ons oor die kriminele klagtes ingelig is, is toe Carte Blanche ʼn reaksie by ons oor die aantygings van dieremishandeling wou hê,” het Georgina bygevoeg. “Ons het weereens versoek om die beeldmateriaal te sien, om seker te maak dat dit wel ons sirkus is, en of daar nie moontlik met die beeldmateriaal gepeuter is nie. Dié versoek is egter afgekeur.”

Volgens Georgina is die een hanteerder wat in die video verskyn reeds in Desember afgedank en die ander hanteerder is geskors van alle pligte in afwagting op die uitslag van ʼn ondersoek.

Georgina het verder gesê dat die beeldmateriaal wat op Carte Blanche uitgesaai is, aanvoer dat die olifante slegs mag urineer wanneer daar ‘n emmer vir hulle beskikbaar gemaak word. “Dit is belaglik. Die olifante kan natuurlik enige tyd urineer, daar was egter ‘n werknemer by die sirkus wat in ‘n stadium die urine in ‘n emmer versamel het om as muti te drink.”

Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.