Brief wys Zuma het geweet van Nkandla

ʼn Brief waarin die vorige minister van openbare werke vir president Jacob Zuma in kennis stel rakende die vordering van opgradering by sy huis in Nkandla wys glo dat Zuma wel bewus was van die omvang van die opgraderings.

ʼn Afskrif van die brief getiteld: “Nkandla: veiligheidsinstallasies aan die privaatwoning van sy hoogheid President Jacob Zuma” is deur Linidiwe Mazibuko, die DA se parlementêre leier, aan die media gestuur. Die brief gedateer 5 November 2010 blyk onderteken te wees deur Gwen Mahlangu-Nkabinde, vorige minister van openbare werke, Hendriette Bogopane-Zulu, haar destydse adjunk, Siviwe Dongwana, destydse DG, en Rachard Samuels, destydse adjunk-DG. Die brief is aan Zuma geadresseer en lees: “Aangesien ek op 1 November 2010 diens as minister van openbare werke aanvaar het, is ek van mening dat dit verstandig is om oor die vordering van die bogenoemde prestige projek te gesels. Die versnelde aard van die projek vereis die daaglikse opdatering van die projekplan en vir alternatiewe beplanningsmetodologieë om in plek gestel te word ten einde aan die teikendatum van 30 November 2010 te voldoen.” Die opgraderings, wat teen die bogenoemde datum voltooi moes wees, word ook in die brief gelys. Dit sluit in: ‘n vee waterloop, omheinings, ‘n hoë veiligheidsheining aan die binnekant, ʼn waghuis, ʼn snoepwinkel, vullis en elektriese kamers, elektriese toevoer, ʼn rioolbehandelingsaanleg, die hervestiging van Zuma se familie, opgradering van watervoorsiening, ʼn helikopterlandingsplek, uitgrawings vir die kliniek, ʼn toegangspad, ʼn tonnel en koeëlvaste glas.

Thulas Nxesi, die minister van openbare werke, het by monde van sy regsverteenwoordiger, Phillip Masilo, die egtheid van die brief bevraagteken. “Die minister het nog nie die korrespondensie gesien nie en dit is nie in besit van die departement nie. Miskien kan die mense wat in besit is van die brief lig daarop werp.” Nxesi het Sondag bekend gemaak dat die regering R206 miljoen spandeer het op veiligheidsopknappings en konsultante vir Nkandla. Hy het ook gesê dat belastingbetalers se geld nie vir die projek gebruik is nie en dat Zuma nie bewus was van die omvang en koste van die opgraderings nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.