Briefie in ‘n bottel spoel 12 jaar later uit

Taryn McKee

‘n Tiener se boodskap in ‘n bottel het, 12 jaar nadat sy dit in die see gegooi het, op ‘n eiland in Maine, Amerika, uitgespoel.

Taryn McKee van Kanada was in 2000 drie jaar oud toe sy saam met haar gesin in Letete, New Brunswick, vakansie gehou het, berig die Toronto Star. Haar ma het voorgestel dat sy ‘n briefie skryf en dit in die see gooi. Met haar ma se hulp het McKee ‘n briefie geskryf en die bottel in die Atlantiese Oseaan gegooi. Nie een van hulle het gedink dat hulle dit ooit weer sou sien nie.

Becky Lee van die Downeast Coastal Conservancy het verlede week gesê sy het die briefie in ‘n plastiek koeldrankbotteltjie gekry toe sy en ander die strand by Tibbett-eiland skoongemaak het.

Letete, New Brunswick, is sowat 100 kilometer ver van Tibbett Island geleë.

Ná sy die briefie gelees het, was sy ywerig om die outeur op te spoor. Lee het ‘n afdruk van die briefie op Welland Tribune se Facebook-blad publiseer (sien briefie hier onder). “As jy ‘n briefie in ‘n bottel opspoor, het jy ‘n verantwoordelikheid om daardie persoon op te spoor,” het Lee gesê. Die Kanadese media het Lee se storie uitgesaai en die foto is wyd op Facebook en Twitter publiseer. ‘n Gesinsvriend het uiteindelik met Taryn se ma, Cheryl, in verbinding getree. “Wie sou ooit kon raai, 12 jaar later?!” het Cheryl gesê.

Taryn, nou 15 jaar oud, sê sy kan nie die briefie of die bottel onthou nie, maar sy onthou gedeeltelik die gesinsvakansie waar sy skulpies opgetel het en seesiek geword het toe hulle na walvisse gaan kyk het. “Ek is verras dat dit iewers uitgespoel het,” het die tiener gesê. “Ek wil graag nog ‘n briefie skryf en sal dit binnekort by Daytona Beach in Florida in die see gooi,” het sy bygevoeg.

Hier is Taryn se oorspronklike briefie:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.