Bring die Bokke!

Damian de Allende het die eerste van die Springbokke se vier drieë gedruk. Foto: Glenn Nicholls/AFP.

In een van Thirsti Water se advertensies is Siya Kolisi die orkesleier terwyl ’n paar ander spelers met verskillende soorte instrumente musiek maak. Nou ja, die Springbokke het vandag allesbehalwe tweede viool teen die Wallabies in Sydney gespeel.

Die Suid-Afrikaners het die Aussies met 24 – 8 geklop om nie net vir verlede naweek se swak vertoning in Adelaide te vergoed nie, maar het ook vir die eerste keer in nege jaar daarin geslaag om die Wallabies weg van die huis te klop.

Kolisi en kie het met aansienlik meer dringendheid gespeel – Damian de Allende het al in die negende minuut van die wedstryd ’n drie gedruk – terwyl die voorspelers ongetwyfeld die tuisspan oordonder het.

Agterlangs het Damian Willemse met sy zoep-zap-en-zirts-hom-lopies in die no. 10-trui beïndruk, terwyl Canan Moodie sy toetsbuiging met ’n uitstekende drie gevier het.

Die jong regtervleuel het Jaden Hendrikse se skop uit die lug gepluk, ore platgetrek en oor die Aussies se doellyn geduik. Binne ’n oogwink het al sy spanmaats saam met hom feesgevier en die Springbokke het ’n rustydvoorsprong van 12 – 3 geniet.

Dan het Makazole Mapimpi ook vir Marika Koroibete gewys waar Dawid die wortels gegrawe het.

Die Springbokvleuel het net soos verlede naweek langs die kantlyn afgesnel en Koroibete het weer eens probeer om sy driedrukpoging te fnuik. Hierdie keer was dit egter die Suid-Afrikaner wat laaste gelag het.

Mapimpi is weliswaar direk daarna met ’n geelkaart van die veld gestuur omdat hy sy teenstander ’n bietjie teen die grond vasgedruk het.

Humeure het opgevlam en as die onderonsie tussen Eben Etzebeth en Allan Alaalatoa ’n rukkie langer aangehou het, is die kanse goed dat die Springbokke ook die boksgeveg sou gewen het.

Jip, die Springbokke het die bordjies ordentlik verhang en Jacques Nienaber behoort vanaand ’n bietjie rustiger te slaap.

Vat so, Wallabies!

  • Puntemakers:

Springbokke: Drieë: Damian de Allende, Canan Moodie, Franco Mostert, Makazole Mapimpi. Doelskoppe: Damian Willemse en Frans Steyn.

Wallabies: Drie: Pete Samu. Strafskop: Noah Lolesio.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Ek was verras (aangenaam) deur die Bokke se kalm en doelgerigte spel. Willemse , De Allende en Kolisi was teen die verwagtinge in vir my , die sterre van die dag. En ons het nou ‘n oordosis van puik vleuels . Kolbe , Mapimpi en nou die 2 nuweling skitterspelers Kurt Lee en Canan Moodie . En Faf sal moet uithaal as hy vir Jaden Hendrikse wil lig , om weer die opdraf no 9 te wees..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.