Brits-man met baksteen geslaan, geskiet

Die Brits-polisie ondersoek ʼn saak van moord nadat Zarco Bulajic (58) by sy huis in Elandsrand helder oordag met ʼn baksteen geslaan en daarna doodgeskiet is.

Kolonel Emelda Setlhako het Woensdag gesê die man is Maandag omstreeks 10:55 by sy huis aangeval.

“Na wat verneem word was die man saam met die huishulp buite by die huis se lapa. Hy is van daar in die huis in om sy selfoonlaaier te kry terwyl die huishulp buite gebly het. Sy het toe ʼn geskreeu in die huis gehoor en gaan ondersoek instel,” het Setlhako gesê.

Die huishulp het gesien hoe die slagoffer met ʼn onbekende man baklei. “Geweerskote het afgegaan wat die huiseienaar getref het. Die verdagte het daarna gevlug.”

Die polisie, nooddienste asook sekuriteitsmaatskappye is na die toneel ontbied. Die man is dood op die vloer in ʼn plas bloed aangetref. Hy het erge kneusplekke en verskeie skietwonde gehad.

Niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie. Die polisie versoek enigiemand met meer inligting om ao. Moses Mmatli by 079 222 8954 te skakel. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.