Brits-polisie keer vier rowers aan

Brits-polisiebeamptes saam drie van die verdagtes. Foto: Verskaf.

Vier vermeende rowers, tussen die ouderdom van 18 en 24 jaar oud, is Dinsdag deur die Brits-polisie in Noordwes, in hegtenis geneem ná ʼn besigheidsroof.

Volgens kaptein Adele Myburgh, ʼn polisiewoordvoerder, het die verdagtes omstreeks 11:00 ʼn besigheid in Mamogaleskraal naby Brits beroof.

“Inwoners van die omgewing het een van die verdagtes kort na die voorval aangekeer en aan die polisie oorhandig,” het Myburgh gesê. “Die vroulike slagoffer (38) het vir die polisie gesê dat vyf verdagtes, waarvan twee gewapen was, haar winkel betree en kontant geëis het. Die verdagtes het die vrou en haar 66-jarige buurvrou gyselaar gehou. Die slagoffers het om hulp geskree. Lede van die gemeenskap het gaan ondersoek instel en een verdagte aangekeer,” het Myburgh gesê.

Vier van die verdagtes het in ʼn nabygeleë veld in gevlug met ʼn onbekende bedrag geld en lugtydkoopbewyse. Die polisie het die veld deursoek en drie van die verdagtes vasgetrek. Die polisie het op die gesteelde items en ʼn windbuks-geweer beslag gelê.

Die verdagtes moet binnekort in die Brits-landdroshof verskyn op aanklag van besigheidsroof. Die vyfde verdagte is nog nie aangekeer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.