Brits-tiener dalk nog lank in hospitaal

Luday in die hospitaal. Foto: Facebook

ʼn Lang tyd van herstel lê nog vir Luday van der Merwe, die 16-jarige seun wat op Oujaarsaand vir ʼn selfoon geskiet is, in die hospitaal voor.

Jenny Wallis, Luday se ouma wat na hom omsien, het oor die naweek bevestiging gekry dat Luday ʼn parapleeg is. “Die koeël wat in sy rugwerwel vassit, het versplinter en is tans te gevaarlik om uitgehaal te word. Hulle kan ook nie ʼn magnetiese resonansie-skandering doen nie, aangesien die skrapnel kan beweeg en sy organe beskadig,” het Wallis Maandag aan Maroela Media gesê.

Luday is, sedert die voorval plaasgevind het, in die Dr. George Mukhari-hospitaal in GaRankuwa. “Hy gaan ten minste vir nog sewe maande na ‘n jaar behandeling moet kry. Luday is verskriklik verveeld en ons probeer uit die trust wat vir hom gestig is om ‘n draagbare DVD-speler of ‘n PSP speletjie te koop.”

Wallis sê voorts sy kan nie wag dat die distrikshospitaal binnekort in Brits oopmaak nie, dan kan Luday moontlik daarheen verplaas word en nader wees.

Luday is in sy bors geskiet toe hy ʼn vriendin tydens ʼn gewapende roof in Elandsrand naby Brits wou beskerm. Hy het haar glo uit die pad van die aanvaller gestamp. Die koeël het sy skouer binnegedring, deur albei sy longe gegaan en in sy rugstring vasgesteek. Hy is van die bors af ondertoe verlam.

Twee verdagtes is in verband met die skietery in hegtenis geneem.

ʼn Trust is vir Luday oopgemaak om by te staan met die mediese onkostes, ʼn rolstoel aan te koop asook om hom moontlik na ʼn privaathospitaal te laat oorplaas.

Fondsbesonderhde:
Luday van der Merwe Trust
FNB Zambesi-tak
Rekeningnommer 62392512375
Takkode 230145
Verwysing: Die skenker se naam en van of kontakbesonderhede

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.