Brits-tiener moontlik verlam ná skietery

Luday van der Merwe voor hy geskiet is.

Luday van der Merwe (15), wat op Oujaarsaand in Elandsrand naby Brits glo vir ʼn selfoon geskiet is, is in die stadium verlam van die bors af ondertoe.

Maroela Media het Woensdag berig Luday en twee vriende, Deidre en Marcel Strydom, het op Oujaarsaand gaan ondersoek instel of alles in orde is by ʼn nabygeleë huis wat hulle opgepas het. Hulle was omstreeks 23:50 op pad terug huis toe, toe drie onbekende mans hulle in die straat genader het en hul selfone geëis het. Een van die verdagtes het ‘n vuurwapen gehad. Die verdagte het ʼn skoot in die lug in geskiet en daarna die geweer op Deidre gerig. Luday het agter haar gestaan en haar uit die pad gestamp. Die verdagte het geskiet en Luday in sy bolyf getref. Die koeël het sy skouer binnegedring, deur albei sy longe gegaan en in sy rugstring vasgesteek. Die drie verdagtes het ʼn selfoon gegryp en van die toneel gevlug. Lees meer hier.

Jenny Wallis, Luday se ouma wat na hom omsien sedert sy ma 11 maande gelede aan breinkanker oorlede is, het Donderdag aan Maroela Media gesê hy het nog baie seer maar hy sterk aan. “Hy het vanoggend vir die eerste keer na die voorval iets geëet, en hy het Woensdagaand met ons begin praat,” het sy gesê. Jenny sê hy het ʼn hele bordjie pap geëet en water gedrink.

“Ons weet nog nie wanneer hy geopereer gaan word om die koeël te verwyder nie. Die koeël sit tussen sy T4- en T5-rugwerwel vas. Sy longe is in die stadium baie swak en hy sal eers geopereer word wanneer dit herstel is. Dokters sal daarna eers kan bepaal of hy permanent verlam is,” het Jenny bygevoeg.

Luday word Vrydag 16 jaar oud en gaan sy verjaarsdag in die Dr. George Mukhari-hospitaal in GaRankuwa deurbring. “Ons beplan iets spesiaal vir hom, ons gaan vir hom kolwyntjies en ballonne vat om die dag ʼn bietjie vir hom op te kikker. Ons vra asseblief vir almal om vir Luday te bid in die moeilike tyd,” het ʼn bewoë Jenny bygevoeg. Sy het ook almal bedank vir hul gebede en ondersteuning.

Kaptein Aafje Bothma, ʼn polisiewoordvoerder van Noordwes, het Donderdag aan Maroela Media gesê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek ʼn saak van gewapende roof en poging tot moord.

Mense wat Luday wil ondersteun of geldelike skenkings wil maak om met sy mediese onkostes te help, kan Jenny by 079 564 6409 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.