Luday van der Merwe, die 16-jarige seun van Brits wat op Oujaarsaand vir ʼn selfoon geskiet is, is Vrydag ontslaan en vir die eerste keer huis toe sedert die voorval plaasgevind het.
Luday is in sy bors geskiet toe hy ʼn vriendin tydens ʼn gewapende roof in Elandsrand naby Brits wou beskerm. Hy het haar glo uit die pad van die aanvaller gestamp. Die koeël het sy skouer binnegedring, deur albei sy longe gegaan en in sy rugstring vasgesteek. Hy is van die bors af ondertoe verlam. Luday was sedert die voorval in die Dr. George Mukhari-hospitaal in GaRankuwa.
Luday kuier nou by sy ouma, Jenny Wallis, wat na hom omsien sedert sy ma 12 maande gelede aan breinkanker oorlede is. Die gesin het gesê hulle dank die Here dat Hy so goed is vir hom. Hy gaan by die huis wees vir twee weke, waarna hy weer hospitaal toe moet gaan vir rehabilitasie.
“Dit gaan baie goed met hom. Hy is weer homself en hy lag en maak grappies. Hy lyk ook goed, doen oefeninge en ry self rond met sy rolstoel,” het ‘n familielid, Luzjanne Swanepoel, aan Maroela Media gesê.
Vertrou dat hy nog weer gaan loop.