Brits-tiener: Twee vas ná skietery

Luday van der Merwe voor hy geskiet is.

Twee verdagtes is oor die naweek in hegtenis geneem in verband met die skietery op Luday van der Merwe, die 16-jarige tiener wat op Oujaarsaand glo vir ʼn selfoon geskiet is.

Brig. Thulani Ngubane, ʼn polisiewoordvoerder van Noordwes, het Maandag aan Maroela Media gesê ʼn verdagte is Saterdag deur die Brits-polisie in hegtenis geneem wat Sondag tot die inhegtenisname van ʼn tweede verdagte gelei het. Die mans is onderskeidelik 26 en 27 jaar oud en glo van Zimbabwe.

“Die selfoon wat tydens die rooftog gesteel is, is in ʼn inwoner se besit gekry wat die foon by een van die verdagtes gekoop het. Die inwoner het saam met die polisie gewerk om die verdagte aan te keer,” het Ngubane gesê. Die tweede verdagte het Sondag van die polisie probeer vlug en is in die proses in die rug geskiet. Hy is tans onder polisie-aanhouding in die Dr. George Mukhari-hospitaal in GaRankuwa, dieselfde hospitaal waar Luday nog aansterk.

Die verdagtes moet binnekort in die Brits-landroshof verskyn op aanklag van poging tot moord en gewapende roof.

Luday is in sy bors geskiet toe hy ʼn vriendin tydens ʼn gewapende roof in Elandsrand naby Brits wou beskerm. Hy het haar glo uit die pad van die aanvaller gestamp. Die koeël het sy skouer binnegedring, deur albei sy longe gegaan en in sy rugstring vasgesteek. Hy is in dié stadium van die bors af ondertoe verlam.

Jenny Wallis, Luday se ouma wat na hom omsien sedert sy ma 11 maande gelede aan breinkanker oorlede is, het Maandag aan Maroela Media gesê sy is baie bly dat daar vordering in Luday se saak gemaak word. “Die drie polisiemanne wat die verdagtes aangekeer het, is my helde. Ek weet ek mag dit eintlik nie sê nie, maar ek is bly een van hulle is in die rug geskiet. Nou kan die man voel watter pyn Luday deurgegaan het,” het Wallis gesê.

Luday is nog nie opereer nie en Wallis hoop hulle sal vandeesweek nuus kry wanneer hy ingaan vir die operasie om die koeël van sy rugstring te verwyder. Die koeël sit tussen sy T4- en T5-rugwerwel vas. “Hy toon goeie vordering en die dreineringspype is uit sy longe gehaal, so ons wag nou net om te hoor wanneer hy geopereer kan word,” het Wallis gesê. Die gesin het intussen ʼn trust gestig om vir Luday na ʼn privaathospitaal oor te plaas. Inligting vir die trust sal beskikbaar gemaak word sodra dit geregistreer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.