Britse Leeus kry 1ste reeksoorwinning in 16 jaar

Die Britse en Ierse Leeus het hul eerste reeksoorwinning in 16 jaar behaal toe hulle Australië vandag in hul derde en beslissende kragmeting afgeransel het in Sydney.

Die eindtelling was 41-16 en die halftydtelling 19-10. Dit is die meeste punte wat die Leeus – wat slegs elke vier jaar uit spelers van Engeland, Wallis, Ierland en Skotland gevorm word om teen Suid-Afrika, Australië of Nieu-Seeland te speel – tot nog toe in ‘n toetswedstryd aangeteken het.

Die Leeus het die hardste in die eerste toets gebrul en die Wallabies het die tweede toets nealskraaps gewen.

Die Leeus het boonop vier drieë gedruk om sout in die Wallabies se wonde te vryf. Alex Corbisiero het reeds in die tweede minuut oorgeduik ná ‘n kort aangee deur die Walliese skrumskakel, Mike Phillips. Die Wallabies se losskakel, James O’Connor, het sy span se enigste drie laat in die eerste helfte gedruk toe hy met een van sy kenmerklike dartellopies die Leeus se verdedigers dronk gehad het.

In die tweede helfte het die Ierse losskakel, Jonathan Sexton, en die jong Walliese vleuel, George North, gaan druk toe Leigh Halfpenny in beide gevalle die Wallaby-verdediging oopgekloof het en hulle net afgerond het. Die Leeus se binnesenter, Jamie Roberts, wat in die veteraan Brian O’Driscoll se plek vir hierdie toets gekies is, het sy span se laaste drie gedruk toe die Aussies se verdediging weer eens groot gapings getoon en sy spoed deurslaggewend was.

Halfpenny het die ander 21 punte met sy skopvoet aangeteken.

Die Leeus het die Wallabies met hul krag en aanvalsvernuf verlam. Die Australiese skrum, wat deesdae een van hul swakpunte is, het weer eens harde bene gekou teen die gedugte Walliesers in die Leeus se voorry. Die Leeus het talle strafskoppe ontvang weens die Aussies se skrumfoute en het stellig die deurslag in die tweede en derde toets gelewer.

Dit is ook waarskynlik dat daar nou ‘n daadwerklike besluit oor Robbie Deans se afrigting van Australië geneem sal word. Sedert dié Nieu-Seelander die Wallabies begin brei het, kon hulle slegs een keer die Drienasies (wat nou die Rugbykampioenskap heet) verower en dit was in 2011 toe die Rugbywêreldbeker voorrang geniet het.

Hierdie reeksoorwinning sal ’n goeie platform vir die Leeus skep om die huidige wêreldkampioene, die All Blacks, oor vier jaar in Nieu-Seeland aan te durf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.