Britse moordenaar 15 jaar later in Australië gevang

Simon Hennesey

Simon Hennessey van Engeland wat op 14-jarige ouderdom sy tannie vermoor het deur haar 70 keer met ʼn mes te steek en al vir 15 jaar lank voortvlugtend is nadat hy uit ʼn tronk in Engeland ontsnap het, is in Australië aangekeer.

Hennesey (49) het 20 jaar agter tralies deurgebring ná die moord, maar het in Desember 1998 ontsnap toe hy deur die hek van die laesekuriteitgevangenis, waar hy aangehou is, gestap het. Hy is aanvanklik tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op die vrou wat in Plymouth, suidelike Engeland, plaasgevind het.

Die polisie in Queensland het aan die Sunshine Coast Daily gesê dat Hennesey in Tewantin aangekeer is, maar hy het aanvanklik ʼn valse naam aan hulle verskaf. Die beamptes was verstom toe hulle uitvind dat hul gevangene eintlik Hennesey is. “Ons het geweet daar is iets meer aan hom en dit wou voorkom of hy meer as een identiteit het,” het speurder Daren Edwards aan die koerant gesê. “Ons glo hy het tussen Thailand, Nieu-Seeland en Australië beweeg. Dit lyk of hy al sedert 2003 na en van Australië reis.”

Die polisie in Queensland het Hennesey nou van 75 voorvalle van bedrog aangekla, insluitend dat hy in twee gevalle homself as iemand anders voorgedoen het, 38 klagtes dat hy iemand anders se eiendom bekom het en sewe klagtes dat hy dokumente vervals het.

Hy is ʼn paar weke gelede in hegtenis geneem en het op 17 Junie in die landdroshof verskyn. Hy bly in aanhouding tot sy verhoor volgende maand. “Sodra ons sake afgehandel is, kan die Verenigde Koninkryk aansoek doen om hom uit te lewer,” het Edwards bygevoeg.

Hennesey leef glo al jare lank met die opbrengs uit gesofistikeerde bedrogskemas en valse identiteite. Drie van die klagtes teen hom sluit bedrog ter waarde van meer as R270 000 in.
-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.