Britte spioeneer glo op SA diplomate

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het versoek dat daar ondersoek ingestel word na berigte dat Brittanje tydens die G20-beraad op afgevaardigdes, insluitend dié van Suid-Afrika, gespioeneer het.

Clayson Monyela, woordvoerder van die departement, sê hulle het met kommer kennis geneem van die bewerings wat deur die Britse koerant The Guardian gepubliseer is. “Ons het nog nie volledige inligting oor die besonderhede waaroor berig is nie, maar in beginsel veroordeel ons die skending van privaatheid en basiese menseregte, veral as dit gedoen word deur diegene wat hulself demokrate noem,” het hy gesê.

Die koerant het berig dat Brittanje “grondverskuiwende intelligensie-vermoëns” gebruik het om kommunikasie tussen amptenare te monitor tydens twee vergaderings in April en September 2009. Afgevaardigdes se telefoonoproepe is glo afgeluister en hul e-posse is glo gelees.

David Cameron, Britse premier, wou nie kommentaar lewer oor die bewerings nie. “Ons lewer nooit kommentaar op veiligheids- of intelligensiekwessies nie en ek is nie van plan om dit nou te begin doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.