Bronkhorstspruit-betogers brand kliniek ook af

 

Die polisiestasie wat afgebrand is. Foto: Brig. Neville Malila / Saps

Die polisiestasie wat afgebrand is. Foto: Brig. Neville Malila / Saps

Betogers in die Bronkhorstspruit-omgewing, oos van Pretoria, het Woensdag verskeie geboue insluitend ʼn kliniek afgebrand.

“ʼn Kliniek, huis en ʼn saal is in die Rethabiseng informele nedersetting afgebrand,” het Johannes Japhta, ʼn polisiewoordvoerder van Gauteng, gesê.

Hy het gesê betogers het begin versprei na ander nabygeleë informele nedersettings.

Altesaam sewe geboue, waaronder ʼn polisiestasie, is al aan die brand gesteek sedert die inwoners verlede week oor dienslewering van die Tshwane-metro begin betoog het.

Twee mense is Woensdag in Rethabiseng in hegtenis geneem en word aangekla van openbare geweld en deelname aan onwettige openbare byeenkomste.

Meer as 50 mense is Dinsdag in hegtenis geneem nadat ‘n biblioteek en ‘n huis deur betogers in Bronkhorstspruit aan die brand gesteek is. Lees meer hier.

Die Tshwane-metro het Dinsdag in ʼn verklaring gesê inwoners van Bronkhorstspruit, Rethabiseng en Zithobeni in die metro se Streek Sewe, betoog omdat hulle nie voorafbetaalde elektrisiteit kan koop nie.

Blessing Manale, ʼn woordvoerder van die metro, het gesê voordat Streek Sewe met die stad saamgesmelt het, het die streek gebruik gemaak van die Conolog-stelsel om voorafbetaalde elektrisiteit te verskaf. Dié stelsel het verlede Maandag ineengestort.

“Die stad het sedert die stelsel ineengestort het, tegnici ontbied vir herstelwerk, maar is in kennis gestel dat die stelsel onherstelbaar is,” het hy gesê. Hy het gesê die metro het pogings verskerp om die ou sisteem met die nuwe sisteem, wat die metro gebruik, te vervang, asook om nuwe meters aan inwoners in die gebied te verskaf.

Hy het gesê die stad veroordeel vandalisme en die vernietiging van eiendom en versoek inwoners in die gebied om kalm te bly. – SAPA

Lees ook:
Meer as 50 Bronkhorstspruit-betogers in hegtenis geneem
Bronkhorstspruit onluste: Biblioteek en huis ook afgebrand
Video: “Ons is al ‘n week sonder krag”
Foto: Betogers brand Bronkhorstspruit-polisiestasie af

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.