Bruidegom ʼn week voor troue geskiet

Seymore Coetsee, ʼn bruidegom wat volgende Saterdag sou trou, is Vrydag dood na ʼn fratsongeluk met sy eie vuurwapen.

Beeld berig Coetsee (34), bestuurder van die luukse Swala Lodge-wildsplaas sowat 30km wes van Bela-Bela, is geskiet terwyl hy ʼn wasmasjien geskuif het in die huis waarin hy en sy verloofde sou bly na die troue.

Bryan Thomas, die wildsplaas se eienaar, het aan Beeld gesê die geweer het bo-op die wasmasjien gelê. Dit het op die vloer geval en ʼn skoot het afgegaan, aangesien die veiligheidspen nie aan was nie. Die koeël het Coetsee in die maag getref en by sy rug uitgegaan.

Sam Sampson (34), Coetsee se verloofde, het ʼn paar tree van hom af gestaan toe die voorval plaasgevind het. Coetsee het in ʼn ambulans onderweg na ʼn hospitaal in Pretoria, aan die skietwond beswyk.

Trudie Laubscher, Coetsee se tannie, het gesê die familie is verpletterd. “Dit is verskriklik om familielede wat regmaak vir ʼn vreugdevolle geleentheid mee te deel dat hulle nou eerder ʼn begrafnis gaan bywoon,” het sy gesê.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.