Brumbies klop Bulls met laat drie

Die Bulls se droomseisoen het skielik tot ’n einde gekom toe hulle in die halfeindronde van die Super15 teen die Brumbies op Loftus versfeld vasgeval het. Die eindtelling was 26-23.

Die Bulls het in die laaste vyf minute met vier punte voorgeloop toe die Brumbies aanval op aanval geloods het en Tevita Kuridrani uiteindelik oorgeduik het vir die wendrie.

Die Brumbies het ook die stryd voorlangs, ’n tradisonele sterkpunt van die Pretorianers, gewen en veral die skrums gedomineer. Die uitwerking van hoëprofiel-spelers wat beseer of oorsee is, soos Lionel Mapoe, Arno Botha, Juandre Kruger en Pierre Spies, se afwesigheid het in die laaste paar wedstryde en veral vanaand akuut begin raak.

Die manne van Pretoria het talle kanse via strafskoppe teen die einde van die wedstryd gehad om punte aan te teken, maar die kaptein, Dewaldt Potgieter, het telkens besluit om kantlyn toe te skop. Die Bulls wou duidelik rugby in die Brumbies se helfte van die veld speel en dit het hulle vir groot dele van die tweede helfte reggekry.

Nadat Christian Leali’ifano ’n strafskop vroeg in die eerste helfte oorgeklits het, het die Bulls se verdedigers misgetas na die Brumbies aanvallers en Jesse Mogg het in die hoekie afgerond. Skielik was dit 10-0 in die guns van die besoekers.

Morné Steyn het daarna sy span se eerste punte danksy ’n strafskop aangeteken. Die Bulls het toe ’n aanvalsfase betree en JJ Engelbrecht het in die hoekie gedruk. Leali’ifano het twee strafdoele deur die pale gejaag en Steyn het met ’n poging geslaag voordat halftyd aangebreek het.

Die Bulls het met nuwe vuur die tweede helfte begin en etlike aanvalle op die Brumbies se doellyn geloods. Hoewel hulle ’n moontlike drie ontsê is deur die TV-skeidsregter, het Steyn ‘n strafdoel oorgeskop. Leali’ifano het kort daarna weer met ’n strafskop geslaag toe die Bulls by die afbreekpunt oortree het. Die telling was toe 19-14 en die Brumbies was stewig in beheer.

Steyn het met nog drie strafskoppogings geslaag voordat Kuridrani met sowat ’n minuut se speeltyd oor gaan druk het. Leali’ifano het die bykomende twee punte bygevoeg om die Bulls en hul ondersteuners se harte te breek en deur te dring na die eindstryd teen die Chiefs.

Jake White se span speel volgende week in Hamilton teen ’n span wat vandag gewys het hoe verwoestend hulle kan wees. Indien die Brumbies dieselfde vertoning lewer as teen die Bulls en Cheetahs is dit ’n uitgemaakte saak dat die Super15-beker die Chiefs s’n sal bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.