Buckingham-paleis: Man met mes “wou met koningin praat”

Koningin Elizabeth II

Koningin Elizabeth II

David Belmar (44) van Londen het Dinsdag in die Westminster-landdroshof verskyn nadat hy met ʼn mes buite Buckingham-paleis betrap is.

Belmar (foto volg onderaan die berig) wou glo die paleisgronde betree om koningin Elizabeth II aan te spreek oor sy voordele en het skuldig gepleit op aanklagte van betreding en die besit van ʼn artikel met ʼn skerp lem.

Belmar het Maandag verby toeriste oor ʼn voertuigversperring gespring en wou by die paleis se noordelike hek ingaan. Die polisie het Belmar egter voorgekeer en op ʼn 15cm-lange mes, wat in ʼn plastieksak in sy baadjiesak toegedraai is, afgekom.

Staatsaanklaer Edward Aydin het Dinsdag in die hof gesê Belmar het ʼn geskiedenis van geestesgesondheid en het ʼn fiksasie met die koningin. Hy het in 1989 ʼn waarskuwing ontvang nadat hy vuurwerke aan die brand gesteek en dit oor die heining op die paleis se gronde gegooi het.

Belmar se prokureur, Robert Katz, ontken egter dat sy kliënt ʼn fiksasie met die koningin het en daarop gewys dat Belmar nie die mes te voorskyn gebring het nie.

Die koningin was in daardie stadium nie by die paleis nie, het ʼn woordvoerder van die paleis Maandag gesê.

Belmar bly in aanhouding tot sy volgende verskyning by Southwark Crown-hof waar hy gevonnis sal word.

David Belmar Foto: Central News

David Belmar Foto: Central News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.